100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Twee vermeende transitorowers in 2024 verhoor

Written by on December 13, 2023

Twee vermeende transitorowers sal in Oktober volgende jaar in die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela verhoor word.
Fortune Bongumusa Matsane (25) het Maandag in die hof verskyn op aanklagte van moord, gewapende roof en besit van gesteelde eiendom.
Volgens die Valke hou dit verband met ‘n transitoroof wat op 16 April 2021 by ‘n vulstasie in Kabokweni uitgevoer is op ‘n G4S-gepantserde voertuig.
‘n Sekuriteitswag is tydens die rooftog doodgeskiet.
Die verdagtes het met ‘n Toyota Hilux en BMW van die toneel gevlug.
Tydens ontwrigtende operasies is beide voertuie by ‘n huis in Masoyi teruggekry en ‘n saak van die besit van gesteelde voertuie is teen die huiseienaar geopen.
Matsane is deur hom met die rooftog verbind.
Daar is verder vasgestel dat Matsane in Masoyi aangekla word i.v.m. die moord op ‘n Duitse toeris, Jörg Schnarr, in Oktober 2022 tydens ‘n mislukte kaping op die Numbi-pad.
Lees meer: Borgaansoek uitgestel van drie wat glo Duitse toeris vermoor
Matsane is toe as ‘n beskuldige bygevoeg in die transitoroofsaak saam met ene Nkosinathi Khumalo, wat vroeër in hegtenis geneem is.
Die saak teen die twee is egter van die hofrol geskrap nadat die aanklaer gesloer het om die akte van beskuldiging in te dien.
Khumalo het wel in aanhouding gebly omdat hy verbind is met die moord op ‘n polisiebeampte in Tonga.
Matsane is Maandag met ‘n akte van beskuldiging beteken.
Die twee beskuldigdes is in aanhouding.
Nog arrestasies word verwag.
Luister hier:

Intussen is die Valke op soek na die verdagte (sien foto) i.v.m. ‘n transitorooftog wat  in Mhala gepleeg is.


‘n G4S-pantservoertuig is op 17 Mei op die D4394 New Forest-hoofweg aangeval.
Ses verdagtes, gewapen met AK-47’s, het die bestuurder en bemanning uit die kajuit gedwing, hul vuurwapens en selfone by hulle afgeneem en die voertuig met plofstof oopgeblaas.
‘n Onbekende bedrag kontant is gevat.
Die publiek is gevra om na vore te kom met enige inligting.


×