100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

TRAC gereed vir feestydverkeer

Written by on December 12, 2022

TRAC het verskeie verkeersmaatreëls aangekondig om verkeersvloei op die besige N4-tolpad hierdie feestyd te vergemaklik.
Al die tolhekke sal ten volle beman wees op die besigste dae. Die grootste volumes verkeer word op 9, 15, 16, 23 en 24 Desember verwag sowel as 2 en 3 Januarie.
TRACAssist-spanne is op ‘n hoë gereedheid en dubbel roetepatrollies sal uitgevoer word deur die feestyd. Noodspanne sal ook op die besigste dae na brandpunte ontplooi word.
Motoriste is aangeraai om eerder in die daglig te ry.
Alle padwerke word tussen 15 Desember en 9 Januarie gestaak.
“Ons moedig mense wat tussen Suid-Afrika en Mosambiek reis om hul reise te beplan, omdat vertragings verwag word by die Lebombo- en Ressano Garcia-grensposte,” sê kommunikasiebestuurder vir TRACN4, Solange Soares.
Hoewel TRAC nie die grensposte beheer nie, is maatreëls in plek gestel om verkeersvloei op die N4 so glad moontlik te help maak.

Vanaf 15 Desember sal ‘n verkeersbeheerpunt by Coopersdal in werking wees vir alle voertuie wat in die rigting van Mosambiek reis. Verkeer na Komatipoort en die Krugerwildtuin word herlei via die Tenbosch-pad.
Vragmotors, busse, taxis en ligte vervoersvoertuie sal by die rooi vliegtuig geprosesseer word en na Lebombo-grens begelei word.
Kommersiële verkeer wat in die rigting van Mbombela reis sal via Mananga herlei word en private voertuie deur Komatipoort by die Sasol-vulstasie.
Sou ‘n opeenhoping by die KM 4 klaringsfasiliteit in Mosambiek in die rigting van die grenspos ontstaan sal kommersiële voertuie tydelik by die Pessene-beheersentrum en Moamba-tolhek gehou word.
As jy enige hulp benodig op die roete, bel 24-uur die TRACAssist-hulplyn by 0800-87-22-64 of 082-881-4444 in Suid-Afrika en 800-9022 in Mosambiek. Die diens is gratis.
Volg @TRACN4route ook op Twitter om deurgaans op hoogte te bly van kwessies op die roete.


×