100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Staatsveearts moet besluit oor geredde honde van Mosambiek

Written by on December 21, 2020

Vier honde wat verlede week uit kratte by Lebombo-grenspos gered is, sal moontlik van kant gemaak moet word omdat hulle nie volgens regulasies ingevoer is nie.
Volgens die plaaslike DBV het die eienaar hulle intussen gekontak. Volgens haar het sy iemand betaal om daar troeteldiere van Mosambiek na Suid-Afrika te bring toe sy hierheen verhuis het.
Die man het egter glo by die grenspos meer geld van haar geëis, wat sy nie kon betaal nie.

Hy het die diere toe by ‘n nabygeleë taxi-staanplek aan die Mosambiekse kant van die grens, afgelaai. Daar was twee honde in elke krat.
Hulle is Woensdag laat deur doeanebeamptes en grenspos-polisieslede gekonfiskeer en die DBV is ontbied.
Die span wat Nelspruit en Witrivier is dadelik Komatipoort toe, besorg dat die diere moontlik kon ontwater.
Volgens Lize Pienaar van die Nelspruit DBV was daar twee honde in elke krat, en dit was glad nie op standaard nie.
“Daar was geen permitte of kontakbesonderhede vir die eienaar nie en die kratte is in ‘n onaanvaarbare toestand. Ons het daarom vermoed dat iemand die honde moontlik deur die grens probeer smokkel het.”
Volgens Pienaar moet die staatsveearts besluit wat volgende met die honde gebeur.
Die staatsveearts het reeds die honde ondersoek. Die eienaar kon gelukkig hul inentingsertifikate verskaf.

“Regulasies is nie gevolg nie. Die honde moes ingevlieg geword het na OR Tambo-lughawe waar hulle vir 14 dae in kwarantyn geplaas sou word.”
Pienaar het troeteldiereienaars gewaarsku om verantwoordelik te wees. “Maak seker van die regulasies wanneer jy met jou diere oor grense heen verhuis. Daar is verskillende reëls en vereistes vir verskillende lande wat gevolg moet word. Dit kon soveel erger vir hierdie arme honde gewees het.”
Sy het alle betrokke rolspelers vir hul samewerking bedank.



×