100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Skole is toe, maar voedingskema gaan voort

Written by on July 28, 2020

Die Mpumalanga onderwysdepartement doen alles om te verseker kwesbare kinders, ondanks dat die skole gesluit is, hulle daaglikse maaltyd steeds kan ontvang.
Woordvoerder, Jasper Zwane, sê sowat 11 000 leerlinge word deur die voedingskema in die provinsie gevoed.
Dit het egter ‘n hofbevel geverg vir hulle om weer die skema uit te rol. Die hooggeregshof het bevind die leerlinge is steeds geregtig op daaglikse etes, al woon hulle weens die Covid-19-pandemie nie skool by nie.
Volgens Zwane het hulle die skema gestaak weens logistieke redes.

“Dit is soms ook moeilik vir kinders wat ver woon, om die pakkies af te haal. Die wat vervoer benodig sal dit daarom weekliks of maandeliks ontvang,” sê hy.
Die gr. 12-leeringe gaan volgende week terug en die gr. 7’s die week daarna. Die ander graadgroepe sal vir ‘n volle maand van die skool af moet wegbly.
Die skooljaar sal nie hierdie kalenderjaar afgehandel kan word nie. Die departement van basiese onderwys moet nog meer besonderhede daaroor kommunikeer.
Volgens Zwane het die departement gereed gemaak vir meer grade om terug te keer skool toe.
Hul begroting is verlede week besnoei, maar hy voer aan dat, te danke aan ‘n spesiale toelaag en die private sektor, hulle genoeg van alles het om te verseker leerlinge kan veilig skoolgaan.
Mpumalanga het Sondag die 10 000 merk oorskry. Daar is nou 10 363 positiewe gevalle in die provinsie. Van hull het 4 995 pasiënte herstel.
‘n Totaal van 52 is dood.
“Slegs eMalahleni (Witbank) gee ons slapelose nagte,” sê Zwane.
Daar is reeds 2 852 positiewe gevalle in die area aangemeld, die meeste van enige munisipaliteit in Mpumalanga.
Mbombela het tans 1 397 gevalle, met 652 herstel en drie sterftes.

 


×