100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

SANParke soek voort na vermiste veldwagter

Written by on November 23, 2020

SANParke soek onverpoosd na die veldwagter wat Dinsdagaand in die Krugerwildtuin vermis geraak het.
Die 51-jarige Checkers Mashego is ses dae gelede laas in die Stolsnek-area gesien. Hy word beskou as ‘n ervare veldwagter.
Hy was Dinsdag saam met ‘n kollega op ‘n roetine-patrollie toe hulle net voor laaste lig verwittig is om iets langs die Nsilikazi-rivierbedding te ondersoek.
Hulle is uitmekaar en het afgespreek om by ‘n brandstrook te ontmoet. Mashego het nooit by die ontmoetingsplek opgedaag nie en sy kollega het alarm gemaak.
Volgens die Krugerwildtuin se woordvoerder, Ike Phaahla, het hulle nog geen nuwe leidrade nie.
Die polisie het ‘n ondersoekspan saamgestel wat saam met veldwagters en SANParke se honde-eenheid en lugvleuel na Mashego soek.
Hulle soek ook ‘n ent buite die grensdraad.
“Hy was naby aan die grensdraad. Ons weet nie of hy uitgegaan het nie. Sonder enige leidrade is dit moeilik om elders te gaan soek,” verduidelik Phaahla.

“Ons wil nie spekuleer oor wat kon en nie kon gebeur het nie, tot ons konkrete inligting het nie.
“Môre is ‘n week sedert ons hom laas gesien het. Ons is almal baie besorg oor sy veiligheid.”
Die wildtuin praat ook deurgaans met Mashego se gesin en vriende. ‘n Biddiens vir sy veilige terugkeer is Vrydag gehou.
Phaahla voer aan dit is die eerste keer dat iemand so lank in die wildtuin vermis is. Voorheen, in 2007, het hulle in die Singwedzi-area ‘n veldwagter kortstondig verloor.
Hulle was besig om stropers se spoor te volg, toe hulle deur ‘n trop olifante aangeval is.
‘n Helikopter was in die omgewing en kon die diere verjaag en die veldwagter opspoor.
Hy was gedisoriënteerd en moes berading ontvang.
Ten tyde van sy verdwyning het Mashego sy uniform aangehad en sy geweer, radio en selfoon by hom gehad.
“Ons vra weer vir enigiemand met inligting om ons te kontak,” sluit Phaahla af.
Die nommers is 076-801-9679 of 013-735-0197.



×