100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Sabie-inwoners al vir dae sonder water

Written by on July 9, 2020

Inwoners van Sabie het al vir twee dae nie water nie. Dit nadat hul watertoevoer verlede week vir vyf dae onderbreek is.
Gwilym Rees, die voorsitter van die Sabie-belastingbetalersvereniging, sê die hoof-pompstasie van die dorp se enigste waterpomp is buitewerking. Dit sal na verwagting eers teen Sondag herstel wees.
Volgens Rees voorsien Thaba Chweu-munisipaliteit inwoners van water met ‘n tenk, maar dit is onvoldoende.
Daar is al vir ten minste agt jaar geen bystandpomp nie.

As ‘n noodmaatreël het die belastingbetalersvereniging ‘n komponent laat installeer om ten minste tydelik die watertoevoer te herstel.
Dit het egter slegs ‘n paar dae gehou. Die pomp word wel tans herstel, maar volgens Rees is dit erg beskadig weens swak instandhouding en moet dit herbou word.
Aangesien dit sowat ‘n dag neem om te installeer, hoop hulle om teen Sondag weer water in die dorp te hê.

“Ons ondersoek die moontlikheid om self ‘n tweede een te koop, maar dit kos sowat ‘n halfmiljoen rand,” voeg hy by.
Boonop het Thaba Chweu-munisipaliteit inwoners die harnas in met buitensporige tariefverhogings wat aan die begin van die maand in werking getree het. In Lydenburg het inwoners Saterdag hierteen betoog.

Volgens die tariewe vir die nuwe finansiële jaar, moet elke verbruiker ‘n nuwe basiese tarief betaal.
Volgens ‘n verklaring van die munisipaliteit, het dit ten doel om hul terugbetalingsplan aan Eskom te befonds deur die tariewe nader te bring aan dit wat hulle Eskom moet betaal.
Die munisipaliteit skuld die kragverskaffer ongeveer R760 miljoen. Rees voer aan dit maak groepe soos pensioenarisse veral seer.

 


×