100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Robbies beplan dat almal Maandag weer begin

Written by on July 1, 2020

Skole in die Laeveld hanteer die tweede fase van heropening verskillend.
Grade 10 en 11 asook grade 1 tot 3 en gr. 6-leerlinge kan volgens die departement van basiese onderwys op 6 Julie terugkeer skool toe.
Die ander graadgroepe sal eers in Augustus teruggaan.
Volgens die departement se jongste riglyne maak voorsiening dat skole van die gepubliseerde datums mag afwyk en graadgroepe vroeër terug mag verwelkom – mits dit binne streng COVID-19 riglyne gebeur.
Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier se Hoof Dawie Oberholzer sê hulle is al sedert die begin van Junie gereed om al die leerlinge terug te verwelkom.

Al die leerlinge sal egter nooit terselfdetyd by die skool wees nie.
Oberholzer verduidelik dat twee dinge belangrik is: Kan ‘n afstand van 1,5 meter tussen mense in klaskamers gehandhaaf word, en kan minder as 50% van die skool se leerlinge en onderwysers by die skool wees?

Die gr. 12-leerders gaan voltyds fisies skool. Die res van die grade is volgens hul vanne in twee groepe verdeel. Daarvolgens maak hulle beurte om fisies by die skool te wees.
Een groep is die een week by die skool en die ander die volgende week. Diegene by die huis ontvang vir die week afstandonderrig.
“Ons hoop dat formele onderrig vir almal vanaf Maandag 6 Julie kan aangaan,” sê Oberholzer.
Rob Ferreira het reeds begin met oriëntering oor die Covid-19-pandemie vir die laer grade.
By hul aankoms word die leerlinge ook geassesseer om te bepaal of almal op die regte vlak is na maande van afstandonderrig tydens inperking.

Oberholzer sê die uitslae is wisselvallig, omdat nie alle kinders toegang tot data, internet en selfs televisie het nie. Hul motiveringsvlakke verskil ook.
Daarom gaan die Robbies daagliks tot 14:45 skool. “Ons wil seker maak ons haal in en kry al die kinders op die regte vlak.”

Hoërskool Bergvlam se hoof, Deon Visser, sê hulle het vir die onthalwe van die leerlinge se emosionele en geestelike welstand, besluit om vir nou te hou by die gepubliseerde datums vir gr. 10’s en 11’s se terugkeer na die skoolbanke.
Die skoolbestuur sal daarna besluit of gr. 8’s en 9’s voor 3 Augustus kan terugkeer.

Hoërskool Nelspruit bly ook vir nou by die gepubliseerde datums.
Volgens die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, moet daar streng aan veiligheidsmaatreëls by skole voldoen word.
Skole wat nie aan die vereistes voldoen nie, word nie toegelaat om te heropen nie.

 


×