100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Restaurante heropen, alkohol volgende in visier

Written by on June 30, 2020

Restaurante mag weer klante op hul persele bedien.
Alkohol mag egter steeds nie op restaurantpersele gebruik word nie.
Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika sê hulle sal die beperkings op die verkoop van alkohol takel om dit te probeer opgehef kry.
Minister Mmamoloko Kubayi-Ngubane het Vrydag nuwe riglyne vir die toerismebedryf aangekondig. Dit sal vandag gepubliseer word.
Daarvolgens mag meer bedrywe oopmaak: casino’s en teaters mag ook weer heropen. Basiese reëls geld vir almal.
Monique Seibold van Que’s Cafè in Mbombela sê hulle het tydens inperking harde klippe gekou, maar sy kon daarin slaag om al haar werknemers te behou.
Haar koffiewinkel kan nou minder klante akkomodeer.
Sy voeg by dat Que’s Cafè gelukkig nie ernstig geraak word deur die verbod op die gebruik van drank nie, maar dat restaurante wat aandetes bedien hard daardeur getref gaan word.

Die basiese riglyne is dat elke onderneming daagliks moet rekord hou van werknemers, diensverskaffers en klante wat hul perseel besoek. Almal moet met hul aankoms hul temperatuur neem en gesaniteer word.
Almal moet te alle tye maskers dra, behalwe wanneer hulle besig is om te eet of drink. Elke gas moet ‘n Covid-19-vraelys invul.
Almal moet sover moontlik 1,5 meter van mekaar af bly. Bestuurders moet saniteerders verskaf en hul fasiliteite gereeld ontsmet.
Oppervlaktes wat gereeld aangeraak word, moet na elke gebruik ontsmet word.
Volgens Seibold moet mense steeds ‘n meter van mekaar af sit en uit dieselfde huishouding kom.
Alle sous en ander speserye moet weggooibaar wees.
Restaurante mag nie selfdiens-buffet-etes aanbied nie. Tafels en spyskaarte moet gesaniteer word na elke gebruik.
Casino’s mag slegs 50% van hul kapasiteit mense op die vloer toelaat. Klante moet van saniteerders voorsien word om oppervlaktes wat hulle aanraak te saniteer.
By konferensiesentrums word die aantal mense wat vergader tot 50 beperk.
Water en pepermente moet individueel verskaf word. Die mikrofoon en podium moet na elke gebruik gesaniteer word.


×