100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Regstappe beplan na vals nuus oor stroping

Written by on May 26, 2021

‘n Herrie het losgebars na ‘n groep toeriste gesien het hoe ‘n dooie renoster se horing deur ‘n veldwagter in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) verwyder word.
Media het berig dat die voorval vrae laat ontstaan het oor of die veldwagter self betrokke is by stroping.
NKW woordvoerder, Ike Phaahla, sê hulle beplan regstappe teen die persoon wat dié vals nuusstorie versprei het.
In werklikheid is die renoster aan natuurlike oorsake dood. Dit is verder Sanparke-beleid om horings so spoedig moontlik te verwyder en in veiligheid te plaas.
Luister weer hier na die volledige gesprek tussen Phaahla en Ludi:

Op 11 Mei is die karkas van ‘n dooie renoster in die Satara-omgewing deur ‘n vlieënier raakgesien. Veldwagter Wilson Siwela is dadelik saam met ‘n algemene werker na die toneel.
Siwela het aan die groep toeriste op ‘n nagrit verduidelik wat aangaan, en hulle het selfs gehelp deur ligte te skyn sodat hulle makliker kon werk om die renosterhoring af te kap.
Die volgende dag het ‘n man wat glad nie eens op die wildkykvoertuig was nie, ‘n verdraaide weergawe van die storie op sy sosiale media geplaas. Beide Phaahla en Don English het hom gekontak om hom van die feite te verwittig, maar die man het die media gekontak.
Phaahla sê dat die oorsaak van die renoster se dood op daardie stadium nog nie bepaal was nie, en omdat dit gestroop kon wees en die stroper die dier kon gevolg het en steeds die horing kon kry, was dit dringend om die horing af te sny.
“Dit is jammer dat die toeriste die grusame toneel moes aanskou, maar dit is iets waarmee ons veldwagters daagliks werk,” sê hy.
Hy sluit af dat hulle glo Siwela se naam is deur die modder gesleep. “As die man gedink het ‘n misdaad is gepleeg, kon hy dit by die polisie aangemeld het, maar hy het nie want hy weet sy storie is nie waar nie.”


×