100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Professor Salim Abdool Karim lig ses belangrike dinge uit rakende Covid-10 in Suid-Afrika

Written by on April 16, 2020

Op Maandagaand 13 April het professor Salim Abdool Karim, een van verskeie adviseurs van die minster van gesondheid, Dr. Zweli Mkhize, ’n aanlyn mediakonferensie oor Covid-19 toegespreek. Karim is ’n kliniese epidemioloog wat spesialiseer in aansteeklike siektes en is ook die voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19. Tydens sy aanbieding het hy gefokus op wat verwag kan word met betrekking tot die verspreiding van die koronavirus in Suid-Afrika.
In ʼn neutedop het hy op die volgende ses dinge gefokus:
1. Die nasionale inperkingstyd het vrugte afgewerp.
Karim het daarop gewys dat die infeksiegraad nie so hoog is soos wat ’n paar weke gelede voorspel is nie. Dit is te danke aan die staat van inperking wat deur Pres. Ramaphosa afgekondig is en op 26 Maart begin het. Daar is beslis ʼn verskil tussen die infeksietempo voor die inperking en waar dit nou is.
2. Die verspreiding van die virus geskied in drie fases.
Karim het verduidelik dat besmetting met die virus in drie verskillende fases gebeur. Die eerste fase is die infeksies wat veroorsaak is deur reisigers wat van oorsee af teruggekeer het na Suid-Afrika en wat positief getoets het vir COVID-19. Die tweede fase was die mense wat in aanraking met hierdie mense gekom het. Die derde fase is mense wat geïnfekteer word in die gemeenskap. Hy het ook bygevoeg dat die besmettings in die laaste fase nie so vinnig gebeur soos wat daar gevrees is nie.
3. Dis onvermydelik – Suid-Afrika sal nie ʼn vloedgolf van infeksies vryspring nie.
Alhoewel die infeksietelling veel laer is as wat verwag is, sal die land nie die ergste van die epidemie kan vryspring nie, het Karim gesê. Die tyd van inperking help wel om alles gereed te kry vir die groot uitbraak. Ongelukkig is daar nog geen entstof teen die virus nie. Hy het bygevoeg dat almal wat teen die virus veg daarop hoop dat dit stadig sal afplat en verdwyn. Ongelukkig sal dit nie so verloop nie. Hy is ook bekommerd oor die beëindiging van die inperking want wanneer mense weer vrylik kan beweeg, sal baie weerloos wees teen die virus. Hy is versigtig om dit te sê, maar die geringste geleentheid wat die virus gaan kry om te versprei, sal dit wel gebeur.
4. Die naderend griepseisoen is ’n groot bekommernis. Daar sal moontlik ’n gedeeltelik inperking vir die ouer mense voortduur.
Karim het verwys na die griepseisoen wat nou nader kom en hy het bygevoeg dat die departement van gesondheid bang is dat dit pogings, om die koronavirus te bekamp, sal belemmer. Hy het ook gesê ouer persone is baie weerloos en sal daarom beskerm moet word en heel moontlik sal daar ʼn vrywillige inperkingstyd vir hulle voorlê. Die grootste getal mense wat wêreldwyd gesterf het aan die koronavirus is ouer mense en daarom sal almal bo 70, selfs die bo 60 of 65 ingesluit word in so ’n gedeeltelike inperking.
5. Toetsing vind al hoe meer plaas.
Hy het gesê dat daar al hoe meer toetse vir die koronavirus gedoen is in die laaste paar weke. Op Maandag 13 April het die aantal toetse wat gedoen is op 83 663 gestaan. Die dodetal was 27 en die aantal mense wat met die koronavirus geïnfekteer is, is 2272.
6. Die weke wat voorlê
Karim het dit beklemtoon dat die regering die ekstra tyd wat die inperkingstyd hulle gegun het moet gebruik om al meer mense te toets vir moontlike besmetting en ook om mense op te spoor wat met geïnfekteerdes kontak gehad het. Aangesien daar nie binnekort ’n entstof gekry sal word nie, het hy mense ernstig gemaan om gehoor te gee aan die inperkingsregulasies.

 


×