100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Polisie bekommerd oor aanvalle op beamptes

Written by on March 28, 2022

Die Mpumalanga polisiekommissaris, luit. gen. Semakaleng Manamela, is bekommerd dat polisielede toenemend deur kriminele geteiken word.
Gisteraand is ‘n 24-jarige man en 26-jarige vrou aangekeer na hulle op die polisie geskiet het, terwyl hulle probeer vlug het van ‘n winkelsentrum naby Calcutta waar hulle na bewering ‘n roof wou uitvoer.
Hul motorband is raakgeskiet wat hulle forseer het om te stop. Beide is gewond en ontvang tans behandeling.
Polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, sê hulle sal aangekla word van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie terwyl die vuurwapen forensies getoets word.
‘n 25-jarige vrou is ook gearresteer nadat ‘n polisiebeampte se dienspistool Sondagmiddag in haar huis in Shatale naby Bosbokrand gevind is.
Volgens die polisie was die polisiebeampte in die vroeë oggendure op pad na Shatale toe hy en sy metgesel by ‘n poskantoor gestop het.
Twee mans, waarvan een aan die beampte bekend is, het te voorskyn gekom en die beampte se dienspistool gegryp en gevlug.
Die wapen is na die vrou se huis gespeur. Die twee mans word gesoek.
‘n Mannejag is ook geloods na sowat agt verdagtes wat Vrydagoggend betrokke was by die skietdood van sers. Enok Themba Nsimba (37).
Hy is noodlottig gewond toe die polisie reageer het op ‘n wenk oor ‘n saamtrek van 15 vermeende kriminele by ‘n gastehuis in Kabokweni.
Ses verdagtes is aangekeer en sal vandag in die hof verskyn.

Mohlala sê die verdagtes het op die polisielede geskiet terwyl hulle probeer vlug het en Nsimba is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Agt vuurwapens, onder meer ‘n AK-47, is op die toneel gekonfiskeer, sowel as vier voertuie.


×