100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike toerisme in ernstige moeilikheid

Written by on May 21, 2020

Geen toerismeonderneming gaan inperking oorleef tensy alle vlakke van die regering saam met die bedryf werk om dit te red nie.
Oupa Pilane, president van die Kruger-Laeveld-toerisme-en-sakekamer en voorsitter van SATSA Mpumalanga, sê geen toerismeonderneming in Ehlanzeni verdien tans ‘n inkomste nie en sal geensins nog ses maande kan oorleef nie.
Hoewel niks konkreets nog aangekondig is oor die verslapping van inperkingsregulasies in die bedryf nie, is Pilane hoopvol dat irrasionele regulasies aangespreek sal word.
Laeveld toerisme het met opnames begin om werklike data aan die provinsiale bevelraad voor te lê oor wat al oopgemaak kan word.
Die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme het ook ‘n span saamgestel vir die herstel van toerisme.

Pilane is hoopvol na die president se toespraak hierdie week dat die min Covid-19-gevalle in die area in ag geneem sal word.
Hy voel die Nasionale Krugerwildtuin behoort oop te wees.
“Die voordeel van ons toerisme-aanloklikhede is die oop spasies. Mense kan maklik fisies ver van mekaar af bly,” sê hy.
Dit is ook vir hulle onverstaanbaar dat mense wegneemetes nie self by restaurante kan oplaai nie, terwyl hulle wel supermarkte mag besoek.
Die restaurante is reeds onder druk, en moet addisionele uitgawes aangaan om die aflewerings te doen, verduidelik hy.
Boonop het baie noodsaaklike dienste te make met goedere of dienste wat afgelewer moet word – en daardie mense benodig verblyf.
“Toerisme het ook veiligheidsmaatreëls, so laat hulle toe om verblyf te verskaf om die uitdagings te begin verlig.”

Die toerismebedryf se uitdagings is baie. Verreweg die meeste ondernemings het slegs die een bron van inkomste.
Hoewel hulle dankbaar is vir die UIF, is slegs sowat die helfte van werknemers betaal. Hulle het onderneem om die redes daarvoor vas te stel en aan te spreek.
‘n Ander uitdaging is munisipale heffings waarvoor ondernemings steeds rekeninge ontvang, al doen hulle geen sake nie.
Pilane benadruk dat alle vlakke van die regering moet help.
“Mense is bewus van die virus en het duidelik hul gedrag aangepas en dra maskers,” voeg Pilane by. “Ons moet leer om saam met die virus te leef, dit gaan nie binnekort weggaan nie”.


×