100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike skole reageer op matrieks se herskryf

Written by on December 7, 2020

Plaaslike skoolhoofde het geen sê in die besluit dat vanjaar se matrieks wiskunde- en fisiese wetenskap-vraestelle moet herskryf nie, maar dat dit ‘n groot impak op hul graad 12’s het, is vir seker.
Dit is die eerste keer dat twee eindeksamenvraestelle nasionaal oorgeskryf sal word, op onderskeidelik 15 en 17 Desember. Beide wiskunde en fisiese wetenskap se tweede vraestelle het uitgelek.
Minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Vrydag aangekondig dat dit ‘n moeilike besluit was, maar geneem is om die integriteit van die eksamen te beskerm.
Verskeie vakbonde het haar daaroor gekritiseer en gedreig om hof toe te gaan om dit te keer. Cosas in die Wes-Kaap het selfs ‘n beroep gedoen op leerlinge om dit te boikot weens die moeilike jaar van trauma, spanning, depressie en angs wat hulle reeds agter die rug het.
Matrikulante het weens Covid-19 ‘n ongewone en buitengewoon moeilike jaar ervaar.
Johan Hattingh, hoof van Hoërskool Nelspruit, wys daarop dat alle sport in Maart al gekanselleer is, en selfs hul matriekafskeid is daarmee heen. Maar, voeg hy by, sy raad aan die kinders is: Beheer wat jy kan beheer.
“Wat die skool aanbetref, het ons ‘n verantwoordelikheid om die ouens te motiveer en te sê, dit is die kaarte wat jy gedeel is op die stadium, so kom ons bestuur die proses.
“Van die skool se kant af sal ons reg wees om uit te reik en ektra klasse te gee vir die wat ondersteuning nodig het.
“My mandaat is om die kinders te probeer gereed kry vir die vraestelle en dit is wat ons doen.”
Dawie Oberholzer van Hoërskool Rob Ferreira noem die besluit onlogies, en sê ‘n beter manier kon gevind word.

“Die kinders het hard geleer en hard gewerk dwarsdeur die jaar en dit kan ‘n moeiliker vraestel wees. Die kinders, ouers en onderwysers is op hierdie stadium baie omgekrap daaroor.”
Hy bevraagteken dat daar nie ‘n forensiese ondersoek gedoen is na die selfone waarop die vraestelle gevind is nie.
“Die verskoning dat meer mense betrokke is, is nie geverifieer nie. Van die kinders het die vraestelle ontvang nadat hulle reeds begin skryf het.
“Ons weet nie of die memorandums ook uitgelek het nie. Dan is dit ‘n ander storie. Maar die werk wat uitgelek het sou kinders eers moes uitwerk en verstaan en dan nog die regte antwoorde by die regte vrae skryf.
“‘n Baie groot persentasie van kinders in die land sukkel om 30% vir daardie twee vakke te kry.”
Hy voer aan dit sou beter wees om na te gaan watter leerlinge buitengewoon goed vaar teenoor hul skoolpunte in die uitgelekte vraestelle, eerder as om die hele land te laat herskryf.
“Dit is die einde van die eksamen, hulle is emosioneel uitgeput.”



×