100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike pastoor Pretoria toe oorgeplaas na fratsongeluk

Written by on September 14, 2020

Past. Cyzelle Fincham van die Grace Family Fellowship in Mbombela is Maandag oorgeplaas na die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria.
Die ma van drie is Vrydag ernstig in ‘n fratsongeluk by Vygeboom-dam beseer.
Die jagvoertuig waarin sy ‘n passasier was, het omgeslaan en op haar te lande gekom.
Volgens haar man, Kelvin, is twee van haar nekwerwels gekraak. Ses ribbe en haar wangbene en bekkenbeen is ook op twee plekke gebreek.
Sy was tot Maandag in Mediclinic Nelspruit se hoësorgeenheid. Sy het reeds twee operasies aan haar gesig ondergaan.
Kelvin sê ‘n plaaslike ortopeed het aanbeveel dat ‘n spesialis aan haar bekkenbeen opereer.
“Die enigste ou wat dit kan doen is by Eugene Marais,” sê hy.
Cyzelle is suksesvol met ‘n helikopter oorgeplaas.

Sy sal na verwagting vir twee weke in die hospitaal moet bly. Weens die Covid-19-pandemie mag Kelvin en hul kinders, onderskeidelik 13, 12 en nege jaar oud, haar nie in die hospitaal besoek nie.
“Dit is baie moeilik vir haar en vir ons,” sê hy. Daarna sal sy na verwagting vier maande se rehabilitasie benodig om weer te kan loop.
Kelvin was die dag saam met haar by die dam. Hy vertel dat die bestuurder van die voertuig dit na die ongeluk van sy vrou afgehaal het, waarna Kelvin met haar hospitaal toe gejaag het.
Sy was nog wakker, maar in baie pyn. “Die goeie nuus is dat sy nie inwendige beserings het nie,” voeg hy by.
Tans is sy onder sterk pynverdowing.
Kelvin beskryf Cyzelle as baie avontuurlustig en aktief. Hulle is albei pastore, wat sewe jaar gelede saam Grace Family Fellowship Nelspruit begin het.


×