100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga hoop parkeweek lok toeriste terug

Written by on September 14, 2020

Die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad (MTPA) hoop dat Nasionale Parkeweek besoekers sal aanmoedig om plaaslik te reis.
Besoekers kan tot Saterdag gratis toegang verkry tot nege van die MTPA se natuurreservate as deel van Nasionale Parkeweek. Dit vorm deel van Erfenismaand en skop vandag af.
Die MTPA se Londiwe Ngwenya sê die doel is om mense aan te moedig om hul plaaslike natuurlike erfenis te ontdek en om ‘n kultuur van plaaslik reis te help skep.
Hulle het sedert die verslapping van inperkingsregulasies minder besoekers ontvang as wat verwag is.
Onder vlak 3 van inperking is parke en natuurreservate weer toegelaat om vir plaaslike dagbesoekers te heropen, en onder vlak 2 is interprovinsiale reis toegelaat.
Ngwenya skryf dit daaraan toe dat mense se geldsake knyp. Die MTPA hoop egter hierdie gratis week help om besoekers terug te lok na die natuur en dat hulle daarna hopelik weer sal gaan.

Die parke en natuurreservate waar toegang hierdie week in die provinsie gratis is, is Manyeleti, Andover, Songimvelo, Nooitgedacht, Kromdraai, Loskop, Ohrigstad en SS Skosana. By Blyde River geld gratis toegang slegs Saterdag.
“Die Covid-19-pandemie het ‘n uitkringeffek op die toerismebedryf gehad, en met hierdie inisiatief sien ons daarna uit om besoekers weer te verwelkom,” sê Johannes Nobunga, die MTPA se uitvoerende hoof, in ‘n verklaring.
Gratis toegang geld slegs vir dagbesoekers en vir groepe kleiner as 20 mense. Dit sluit nie ander aktiwiteite by die fasiliteite in nie. Verblyf is beskikbaar teen gewone tariewe.
Ngwenya het bevestig dat 50% minder besoekers toegelaat kan word. Dit is daarom beter om vooraf te bespreek, of baie vroeg te gaan, om teleurstelling te vermy.
Weens inperkingsregulasies wat steeds geld en getalle mense beperk, het Sanparke aangekondig dat hulle die jaarlikse week na 16 tot 20 November uitstel.
Mense moet hul Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente by hul aankoms kan toon.
Om besprekings te maak, kontak [email protected].


×