100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Oudleraar van Nelspruit en sy gesin se video maak opslae

Written by on April 17, 2020

Oor Paasnaweek is ʼn video van ’n Pretoriase gesin wat ’n pragtige a cappella verwerking van Pepper Choplin se “We are not Alone” in die verlate gang van ʼn skoolkoshuis sing, wyd op sosiale media gedeel. Die gesin, Dr. Rassie Smit en sy vrou Alna, hulle seun Coetzee en dogter Jana wat op die video gesien kan word, het diep spore in die Laeveld getrap. Die oudste seun, Hanno is ook musikaal maar woon in Kaapstad. Dr. Smit was vanaf 2002 tot 2007 die predikant in die Gereformeerde Kerk Nelspruit. Die kinders was hier op skool maar in 2007 het Dr Smit ʼn beroep na Vanderbijlpark aanvaar en hulle het daarheen verhuis.

In die tyd wat hulle hier in Nelspruit gewoon het, het die gesin gereeld deelgeneem aan die plaaslike Eisteddfod en toe reeds bewys hoe talentvol hulle is. Coetzee, wat vir die tydperk van inperking terug is na sy gesin in Pretoria, is tans ʼn kandidaatprokureur by Du Toit-Smuts & Vennote prokureurs in Nelspruit. Rassie vertel dat hulle aangenaam verras is oor die gewildheid van die video. Tog was dit geensins die idee om te sien hoeveel keer die video gekyk word nie. “Ons het aanvanklik ʼn klankopname van die lied gemaak vir een van my preke. Nou in die inperkingstyd maak ons predikante mos video’s van ons preke om die Boodskap op daardie manier te deel.

Iemand het toe voorgestel dat ons ook beeldmateriaal daarby sit. Een van Alna se vriendinne het die video vir Groot FM, ʼn plaaslike radiostasie in Pretoria gestuur en dit is hoe die bal aan die rol gesit is. Ek dink op Maandag die 13e is daar reeds meer as 220 000 keer daarna gekyk. Wat vir ons baie belangrik is, is nie die hoeveelheid blootstelling wat ons as Smit-gesin kry nie. Vir ons is dit belangrik dat die boodskap van Hoop uitgestuur word. Ons is nie alleen nie, die Here is by ons. As daar net een mens is wat nuwe moed en krag gekry het in hierdie tyd danksy die video, dan is ons gelukkig,” sê Rassie. Op die vraag of hy nie die Laeveld mis nie, glimlag hy breed. Hulle was destyds baie spyt om hier weg te trek, sê hy dan, maar as ʼn predikant kan jy nie altyd kies waar die Here jou wil gebruik nie. Hy is tans ʼn leraar in die Gereformeerde Kerk Wapadrant. Alna is ʼn onderwysers by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria. “In Nelspruit het ons geleer van liefde en mense wat omgee en dit was werklik ʼn wonderlike tyd in ons lewe,” voeg hy by.

 


×