100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nog lig in die tonnel vir sport

Written by on June 19, 2020

President Cyril Ramaphosa se aankondiging Woensdagaand dat sekere sportsoorte weer hervat kan word, was welkome nuus vir plaaslike atlete.
Nie-kontaksport soos tennis en krieket sal eersdaags weer beoefen kan word. In die geval van kontaksport soos rugby en sokker mag spelers weer oefen, maar kontak moet beperk word.
Pieter Rademeyer van Witrivier-rugbyklub sê hulle sal egter eers streng maatreëls in plek moet stel voor hulle oefeninge sal kan hervat.
Hy verwag dat hulle in Julie volstoom sal kan oefen en dat wedstryde tussen Augustus en Oktober gespeel sal word.
Rademeyer voeg by dat veral hoërskoolleerders wie se laaste skooljaar se sport weens Covid-19 gekanselleer is, by hulle aanklop in die hoop om vanjaar nog rugby te kan speel.

Witrivier het gelukkig ook hul plek behou om aan volgende jaar se Gold Cup vir topklubs deel te neem, nadat vanjaar s’n gekanselleer is.
Tog is Rademeyer bekommerd oor die voortbestaan van veral kleiner klubs, wat inkomste en borge verloor het.
Hy voeg by dat die spelers hul sport baie mis, en eers tydens inperking werklik besef het hoeveel die kameraderie van rugby vir hulle beteken.

Gholf kon darem al oor die naweek hervat word.
Barry Broadbent, bestuurder van White River Country Estate se gholfklub, sê die bewoording van die regulasies wat verlede week afgekondig is, was so vaag dat dit onduidelik was wie mag speel.
Slegs hul eie klublede en inwoners van die landgoed is aanvanklik toegelaat om te speel. Dit is egter uitgeklaar en nou is enige lid van enige gholfklub welkom.
Buiten die streng veiligheidsmaatreëls wat ingestel is, het die gholfklub ook hul openingstye aangepas. Afslaantye is ook beperk om ‘n ophoping van spelers te vermy.

“Mense is opgewonde om na twee maande by die huis weer uit te kom en te speel,” sê Broadbent.

Bronne: Pieter Rademeyer, Barry Broadbent


×