100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nog fratsweer die somer verwag

Written by on November 10, 2021

Dele van Mbombela en Nkomazi is die afgelope naweek erg beskadig deur storms.
Volgens Jacques Benade van provinsiale rampbestuur was die meeste skade gekonsentreer in Nkomazi se munisipale area.
Sowat 560 huise, twee gemeenskapsale, 14 skole, nege kerke, 12 winkels en twee gastehuise is beskadig. “Ons tel nog,” voeg hy by.
Volgens Benade word ‘n nat reënseisoen verwag, maar ook meer sporadiese, wispelturige storms soos die afgelope naweek ervaar is.

“Almal is bly oor die reën, maar die groot probleem is die wispelturige reën – in die land en die wêreld,” sê hy.
Fratsvloede, hoë windspoed en baie weerlig sal ook meer ervaar word.
‘n Ramp word beskou as sodanig dat diegene wat daardeur geraak word, nie die vermoë het om verder reg te kom nie.
“As jy ‘n huis of ‘n kar kan koop, aanvaar ons jy kan dit verseker, so die fokus is daarop om die armstes te help.”
Elke moederdepartement dra by: behuising, onderwys, gesondheid, openbare werke asook munisipaliteite se afdelings soos tegniese dienste en water.
Provinsiale rampbestuur staan paraat met tente, seile, matrasse, komberse, kos, stofies en watersuiweringstablette.
Hulle fokus ook op bewusmaking en opvoeding. “Alles gaan oor skade vermindering en dit is elke risiko-draer se werk.”
Dit doen jy deur ‘n risikobepaling. Kyk byvoorbeeld dat jy nie in laagwater-areas bou nie. Vra: is daar genoeg stormwaterdreinering en bome in plekke waar dit skade aan kan rig of toegang tot my eiendom kan belemmer?
Luister na weerwaarskuwings. Wees bewus van jou kinders se bewegings en maak seker ander mense weet waar jy veronderstel is om te wees. Oorweeg ook hoe jy in ‘n noodgeval steeds toegang tot kommunikasiemiddele sal kan hê.
Benade voeg by dat die meeste van die skade wat in Januarie en Februarie deur tropiese storm Eloïse aangerig is, reeds herstel is.
Een uitsondering is die brug tussen Tekwane en Kanyamazane wat weggespoel het.
“Die ingenieurs moes koppe bymekaar sit ten opsigte van die ontwerp en moontlikheid om dit dalk te skuif want ons wil dit nie weer te moet vervang nie.”
Kostes moes ook oorweeg word, maar die datum wanneer herstelwerk sal begin is vandeesweek vasgemaak.


×