100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

NHS se Philip Vogel land se tienkamp-kampioen

Written by on April 21, 2021

Philip Vogel is die naweek as die land se tienkamp-kampioen vir seuns o.18 gekroon.
Die gr. 11-leerling van Hoërskool Nelspruit (NHS) het in agt van die tien items koning gekraai. Sodoende kon hy sy grootste uitdager, Marko Foord van Sentraal-Gauteng, die loef afsteek.
Sy totale punte, volgens Atletiek Suid-Afrika (ASA) se table, was 5 210, teenoor Foord se 4 242.
Volgende jaar wil dié veelsydige atleet kwalifiseer vir die jeug-Wêreldspele wat in Frankryk plaasvind.
Hy sê hy gaan nog hard daarvoor moet werk.

Só het sy uitslae gelyk: 100 m – 12.24, verspring – 5,60 m, gewigstoot – 13,54 m, hoogspring – 1,78 m, 400 m – 59.2, 110 m-hekkies – 17.19, skyfwerp – 41,15 m, paalspring – 2,80 m, spiesgooi – 42,70 m, en 1 500 m – 5:58.80.
Dit maak hom sy skool se eerste nasionale tienkamp-kampioen.
Hy sê skyfwerp is sy beste item, hoewel hy die betrokke dag nie so goed daarin gevaar het as wat hy wou nie.
‘n Ander Nellie-ster, Ashley Erasmus, het ook waardevolle ervaring opgedoen by die byeenkoms. Sy is vanjaar steeds net o.16 maar kon saam met die land se beste senior skyfwerp-atlete deelneem.
Volgens haar afrigter, DP Badenhorst, kon sy in koue, uitdagende omstandighede met ‘n gooi van 46,00 meter wys dat sy tans onder die beste vroue-atlete in die land tel, hoewel dit haar net ‘n sesde plek besorg het.
“Sy kan baie tevrede voel met haar eerste buiging op senior vlak,” sê hy.
Nog ‘n Nellie, hoewel ‘n oud-Nellie, Naas Marais, het ook in die skyfwerp vir mans ‘n silwermedalje verower met ‘n beste poging van 53,61 meter.


×