100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Meester van hooggeregshof se verhoor begin in Mei

Written by on April 22, 2021

Die voormalige meester van die hooggeregshof in Mpumalanga, Bina Masuku (46), en haar medebeskuldigde, Elvis Kgosiemang (37), se verhoor sal op 17 Mei begin.
Hulle het gister in die Nelspruit-hof verskyn op klagte van onder meer bedrog.
Volgens die Valke het hulle oor twee jaar verskeie eisers se geld gesteel. Na raming is R1,7 miljoen sodoende van 12 gesinne ontneem.
Masuku is borg geweier en bly sedert sy aangekeer is in aanhouding. Kgosiemang is uit op borgtog van R30 000. Dit is reeds in Junie 2020 toegestaan. Die twee is aanvanklik in November 2019 in hegtenis geneem.
Volgens die Valke se woordvoerder in Mpumalanga, kapt. Dineo Sekgotodi, is daar tydens die ondersoek vasgestel dat Masuku eisers na haar kêrel, Kgosiemang, verwys het om hul eise te prosesseer. Verskeie het egter nooit die geld wat hulle toegekom het, ontvang nie.
“Navrae het ook getoon dat Kgosiemang nie ‘n prokureur is nie, en dat Masuku valslik aangevoer het dat sy ‘n Suid-Afrikaanse burger is,” sê Sekgotodi in ‘n verklaring.
Die departement van binnelandse sake se immigrasie-afdeling het sedertien hul ondersoek na haar status in die land afgehandel, aldus die Valke. 
Twee maatskappye, Zanvise Multi Holdings en Tanvise Trust Service, word nou ook saam met Masuku en Kgosiemang aangekla.
Tydens die twee se hofverskyning gister het die verdediging uitstel gevra om voor te kan berei om die twee nuwe aangeklaagdes ook te verteenwoordig. Dit is toegestaan. 
Drie dae, 17, 18 en 20 Mei, is bepaal vir die verhoor om voort te gaan.


×