100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga waarsku mense onder die vloedlyn om te ontruim

Written by on February 12, 2021

Die Ehlanzeni-distrik is nog nie amptelik as ‘n rampgebied verklaar na die afgelope amper drie weke se vloede nie, en reeds is meer ontwrigtende reën op pad.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ‘n vlak vier geel waarskuwing uitgereik dat ontwrigtende reën vanaf 14:00 Vrydag tot 18:00 Saterdag in die Nkomazi- en Bosbokrand-areas verwag kan word.
Oorstromings is ook moontlik asook skade aan padinfrastruktuur.
Die weerdiens sê hulle is besorg dat dit dieselfde areas sal raak wat nog nie van die afgelope weke se swaar reën herstel het nie.
Die skade word tot dusver op meer as R400 miljoen beraam. Ten minste 700 huise is ook erg beskadig.
Mense is gewaarsku om eerder nie in hierdie areas te bestuur nie en om ook nie sterk vloeiende riviere en strome te probeer oorsteek nie.
Die Mpumalanga departement van samewerkende regering sê mense wat onder vloedlyne en in laagliggende gebiede bly moet dit oorweeg om eerder hierdie areas te ontruim.
Volgens die woordvoerder van die departement, George Mthethwa, is dit gevaarlik, aangesien damme en riviere reeds baie vol is en die kanse soveel beter is vir verdere oorstromings.

“Mense, veral onder vloedlyne, moet dit regtig oorweeg om dit eerder te ontruim, want dit het die potensiaal om gevaarlik te wees,” sê hy.
“Ons verwag addisionele reën oor riviere en damme wat reeds baie vol is.”
Mthethwa voeg by dat Ehlanzeni nog nie amptelik as rampgebied verklaar is nie. Die provinsie het daarvoor aansoek gedoen by die nasionale departement van samewerkende regering, wat by magte is om dit so te verklaar.
Die voorspelde reën is grootliks weens ‘n hoëdrukstelsel wat vog bring en ‘n laedrukstelsel oor Mosambiek se kus.
Volgens die SAWD kan die swaar reën moontlik eers teen Woensdag begin verminder.
Alle reddingspanne en rolspelers, van die weermag tot gemeenskapswerkers, is in Mpumalanga op ‘n hoë gereedheidsvlak geplaas.
Die dodetal in die provinsie weens tropiese storm Eloise se oorstromings staan tans op nege.


×