100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Bloedbank vra skenkings vir Valentynsdag

Written by on February 12, 2021

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) het ‘n beroep op mense gedoen om hierdie Valentynsdag die liefde te vier deur bloed te skenk.
Lebo Matsimbi van die Laeveld-tak sê hul bloedvoorraad bly landwyd kritiek laag omdat die gewone groot bronne van skenkings – skole en sakeondernemings – weens inperking beduidend afgeneem het.
Daarom dryf hulle tot Sondag, Valentynsdag, ‘n spesiale Valentynspromosie. In die Laeveld kan mense vir die duur ook by BUCO Nelspruit en Local Choice-apteek in Hazyview bloed skenk, sowel as by SANBS se skenkingsentrums.
In Mbombela is die klinieke by Ilanga Mall en die Grove-sentrum geleë, langs PostNet, sedert hulle in Desember uit Riverside Mall getrek het.

“Hoekom doen jy nie vanjaar iets anders as die gewone blomme, sjokolade en kaartjies vir jou geliefde nie?” sê sy.
Jy kan die naweek uitsien om spesiale geskenke by die nasionale bloedbank te ontvang wanneer jy jou lewensgewende bloed skenk. Tot drie lewens kan met elke skenking gered word.
Matsimbi voeg by dat hulle nasionaal elke dag 3 500 eenhede bloed moet inkry om in pasiënte se behoeftes te voorsien.
Die skenkings het baie afgeneem omdat ondernemings veel minder werknemers by die werk het, en staatskole heropen eers weer Maandag.
“Bloed het ‘n beperkte raklewe so ons benodig heeltyd nuwe voorraad. Boonop het iemand elke twee sekondes bloed nodig en net sowat 1% van die bevolking skenk bloed.”
Om bloed te kan skenk, moet jy tussen 16 en 75 jaar oud wees, ten minste 50kg weeg, oor die algemeen gesond wees en ‘n veilige leefstyl handhaaf.


×