100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga gereed om eindeksamen na te sien

Written by on January 4, 2021

Mpumalanga se onderwysdepartement sê hulle is gereed om 2020 se gr. 12-vraestelle te begin nasien.
Die proses het amptelik vandag afgeskop. Volgens die woordvoerder van die departement, Jasper Zwane, het die nasieners vandag gearriveer en oriëntering ontvang in die navolg van inperkingsregulasies.
Die ander personeel het reeds opleiding ontvang. Dit sluit in moderators, assistente, administratiewe personeel en sentrumbestuurders.
In totaal is nagenoeg 4 869 mense in Mpumalanga daarby betrokke.
Verlede jaar se matriekeksamen was die grootste tot nog toe. In Mpumalanga het ‘n totaal van 93 899 matrikulante dit in November en Desember afgelê.
Die groter aantal kandidate was te wyte aan die kansellasie van die Junie-eksamen weens die Covid-19-pandemie.
Om die nasien te beveilig, het Mpumalanga die aantal merksentrums van 16 tot 19 vermeerder.
Volgens Zwane sal elke persoon daagliks met hul aankoms by die lokaal siftingstoetse vir die nuwe koronavirus ondergaan vir die duur van die nasientydperk.

“Elke poging sal aangewend word om te verseker dat nabye kontak tussen die personeel vermy kan word,” sê hy.
Alle eetgerei sal ook weggooibaar wees, om enige moontlike besmetting te verhoed.
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het oor die naweek aangedui dat enigiemand wat positief toets vir die koronavirus, nie toegelaat sal word om verder na te sien nie. Daarvoor het die departement reserwelyste van nasieners opgestel.
Die LUR vir onderwys, Bonakele Majuba, het alle betrokkenes aangemoedig om versigtig te wees, beide vir die virus en om die geloofwaardigheid van die uiteindelike uitslae te verseker.
Twee vraestelle, fisika en meetkunde, is tydens die eksamen uitgelek. Die hof het beslis dit hoef nie oorgeskryf te word nie.
Die nasien sal op 22 Januarie ten einde loop. Leerders behoort hul uitslae op 23 Februarie te ontvang.



×