100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga bevestig eerste Covid-19-sterfte

Written by on June 8, 2020

‘n Vyf-en-veertig-jarige vrou is Sondag as die eerste koronavirus-sterfte in Mpumalanga aangekondig.
Dit is die laaste provinsie om ‘n sterfte weens die pandemie aan te teken. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes is daar landwyd reeds 952 sterftes weens die virus.
Volgens die provinsiale gesondheidsdepartement is die vrou reeds op 30 Mei in Mbombela-munisipaliteit oorlede, maar is die siekte eers Donderdag by haar bevestig.
Woordvoerder, Dumisani Malamule, wou weens die stigma nie sê in watter hospitaal sy oorlede is nie.
Volgens hom is die vrou op 26 Mei met ‘n siekte in die boonste lugweg gediagnoseer, as ‘n persoon wat ondersoek word geïdentifiseer, in ‘n hospitaal se isolasiesaal opgeneem en vir die virus getoets.
Sy het ook ander onderliggende siektes gehad waarvoor sy chroniese medikasie gebruik het.
Sy is op 30 Mei oorlede. Haar Covid-19-toetsuitslae is op Donderdag, 4 Junie ontvang “weens die tekort aan toetsstelle in die land,” volgens Malamule.
Hy kon nie bevestig of ander toetsuitslae so lank neem om af te handel nie.

LUR van gesondheid, Sasekani Manzini, het mense gemaan om maskers te dra, hul hande deeglik te was en ‘n kliniek te besoek as hulle vermoed hulle is met Covid-19 besmet.
Die gevalle in Mpumalanga staan amptelik op 176 met 102 pasiënte wat herstel het.
Gevalle in Mbombela het die afgelope paar dae skerp gestyg, van 23 Woensdag tot 44 Sondag.
Volgens die gesondheidsdepartement het hulle reeds 3 538 866 siftingstoetse uitgevoer.
Die departement het verlede week met siftingstoetse in Mbombela begin.
Van vandag af tot Woensdag sal spanne tussen 08:30 en 14:00 in Steiltes, Valencia en Nelsville omgaan, en vanaf Donderdag in Witrivier.
Vir inligting oor die virus, kontak die nasionale tolvrye nommer by 080-002-9999.

 


×