100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga besorg oor jongste Covid-19-sterftes

Written by on July 10, 2020

Twee-en-twintig pasiënte is sover in Mpumalanga aan Covid-19 dood.
Dit is volgens die jongste beskikbare syfers, tot op 8 Julie.
Die provinsiale gesondheidsdepartement sê dit is kommerwekkend dat elke pasiënt wat dood is, gemiddeld slegs vier dae in die hospitaal deurgebring het.
Volgens Sharon Nkosi, die woordvoerder, wys dit dat pasiënte moontlik te lank wag om mediese hulp te soek nadat hulle simptome toon.

Hulle is ook bekommerd dat die meeste sterftes in die provinsie, relatief jong mense tussen 40 en 49 jaar oud is.
Van die sterfgevalle het die meeste onderliggende siektes soos hoë bloeddruk, diabetes, en hartsiektes gehad, asook asma en longsiektes. Tuberkulose en MIV was in 9% van die sterftes in Mpumalanga teenwoordig.
Tot dusver is een gesondheidswerker, ‘n verpleegster in KwaMhlanga-hospitaal, op 4 Julie weens die virus oorlede.
Positiewe gevalle het tydens vlak 3 van inperking in Mpumalanga verdubbel. Die departement skryf dit toe aan die heropening van myne en skole en die feit dat mense meer vryelik kon rondbeweeg.

Net die afgelope week is ‘n gemiddelde toename van 181 positiewe gevalle per dag getoon, ‘n skerp styging.
eMalahleni (Witbank) het die meeste gevalle met 772. In Ehlanzeni-distrik word Mbombela met 339 gevalle (waarvan 85 herstel het en twee sterftes) en Thaba Chweu met 37 gevalle (23 het herstel) ook as brandpunte beskou.
Boonop kom die virus die algemeenste voor, onder mense tussen 30 en 39 jaar oud. Volgens LUR vir gesondheid, Sasekani Manzini, kan dit toegeskryf word daaraan dat hulle baie ekonomies aktief is.

Nkosi voeg egter by dat die jongste tendens blyk te wees dat hulle ook partytjies hou. Sy het hulle gemaan om versigtig te wees.
Sy het inwoners ook aangeraai om so gou as moontlik hul dokter of kliniek te besoek, sou hulle griepsimptome toon en om nie aan te neem dat hulle die gewone jaarlikse seisoenale griep onder lede het nie.

 


×