100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga ANC tesourier weer geskors

Written by on January 22, 2024

Die ANC in Mpumalanga het Mandla Msibi, die party se provinsiale tesourier, weer geskors.
Volgens Eyewitness News volg dit op bewerings dat hy die party se grondwet oortree het deur die 112de verjaarsdagvieringe in Mbombela verlede naweek te probeer ontwrig.
Msibi het glo probeer om ondersteuners te verhoed om vieringe by te woon en het by president Cyril Ramaphosa aangedring op ‘n dringende kabinetsvergadering om sy Nkosi Smart City-projek te bespreek.
Volgens die SABC sal hy egter aanbly in sy rol as LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, hangende die uitslag van die dissiplinêre proses.
Nog twee partylede is saam met hom geskors.
Msibi is in 2021 ook geskors hangende moordaanklagte, wat in 2022 teen hom teruggetrek is.
Lees meer: Mandla Msibi maak terugkeer na Mpumalanga premier se kabinet
Intussen is opposisiepartye ontevrede oor bewerings dat Ramaphosa en sy adjunk, Paul Mashatile, ‘n weermagvliegtuig gebruik het om na die ANC se verjaardagvieringe in Mbombela te vlieg.
Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sê die feit dat die president en adjunkpresident toegelaat word om met weermagvliegtuie binnelands te reis, beteken nie dat dit gebruik mag word vir ANC bedrywighede nie.
Hy sê onder andere dat dit ‘n misbruik van belastingbetalersgeld is.


×