100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Meer as 100 aasvoëls in die wildtuin vergiftig

Written by on August 12, 2022

Meer as 100 aasvoëls en ‘n hiëna is gister dood aangetref in die Krugerwildtuin nadat hulle na vermoede aan ‘n vergiftigde buffelkarkas gevreet het.
Volgens SANParke het veldwagters op patrollie in die Punda Maria-omgewing naby die park se grensdraad met ‘n naburige dorp op die dooie diere afgekom.
Nog 20 aasvoëls wat in ‘n bedenklike toestand is, is op die toneel aangetref en met behulp van die Endangered Wildlife Trust (EWT) na die Shingwedzi- en Moholoholo-rehabilitasiesentrums vir behandeling gehaas.
Yolan Friedman, uitvoerende beampte van die EWT, sê dit is kommerwekkend “gegewe die kritieke status wat aasvoëls wêreldwyd het” en dat vergiftigings op hierdie skaal die spesie op ‘n verhoogde risiko van uitsterwing plaas.
Die woordvoerder van die wildtuin, Ike Phaahla, sê die toneel is afgesper vir verdere ondersoek en die karkasse is verbrand om verdere vergiftigings te voorkom.
“Daar is aanduidings dat van die karkasse van liggaamsdele gestroop is,” sê hy.
Hapiloe Sello, waarnemende uitvoerende beampte van SANParke, sê die voorval beklemtoon weereens die gevaar wat vergiftiging inhou.
“Ons doen ‘n beroep op wetstoepassers buite die wildtuin om die oortreders spoedig aan te keer.”
Phaahla het ook ‘n beroep gedoen op tradisionele genesers om hulle in die ondersoek by te staan.
Dit is bekend dat aasvoëls gesog is vir gebruik in moetie.


×