100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Meer as 1 360 arrestasies in Mpumalanga afgelope week

Written by on July 26, 2021

Ses vermeende onwettige myners sal vandag in die Graskop-hof verskyn vir die besit van onwettige goud-materiaal. Vier van hulle word ook aangekla van oortreding van die Immigrasie-wet.
‘n Vermeende swendelaar sal ook in die Nelspruit-hof verskyn. Die 52-jarige man van Nigerië is Vrydag in Gauteng aangekeer.
Daar word beweer dat hy in Januarie R150 000 se bedrog gepleeg het. Verskeie ander sake word ook teen hom ondersoek.
Volgens die polisie is die verdagte voorheen vir bedrog gearresteer – waarvan drie keer in Gauteng en een keer in die Oos-Kaap was.
Agtien bankrekeninge is ook geïdentifiseer waarmee hy glo bedrog gepleeg het, maar dit moet steeds bevestig word. Daar word verder ondersoek of die een rekening gebruik is om R50 miljoen by die mynwerkershulpfonds te steel.
Vier verdagtes van tussen 22 en 27 jaar sal ook vandag in die hof verskyn. Hulle is gister in Delmas in hegtenis geneem na ‘n hoëspoed jaagtog wat tot ‘n einde gekom het nadat die verdagtes teen ‘n vragmotor gebots het.
Hulle het uit hul voertuig geklim en te voet probeer vlug. Die vinnige optrede van die polisielede het hul egter in hul spore gestuit. Twee onwettige vuurwapens en gesteelde goedere is in die voertuig gevind.
In totaal is meer as 1 360 mense die afgelope week in Mpumalanga aangekeer vir verskeie oortredings.
Dit sluit in moord, poging tot moord, verkragting, aanranding, gewapende roof, die besit van onwettige vuurwapens en dwelms, huishoudelike geweld en die verkoop van kos wat verval het.
Verdagtes is ook gearresteer vir die vervoer van alkohol tydens vlak 4 van inperking, die oortreding van die aandklokreël en versuim om gesigmaskers in die openbaar te dra.
Die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Semakaleng Manamela, het die arrestasies verwelkom en mense gemaan om by die inperkingsregulasies te hou.
In Vlaklaagte soek die polisie egter nog na verdagtes wat ‘n huurmotor-bestuurder Vrydag na vermoede doodgeskiet. Die 27-jarige Vincent Nomokonde is by Vlaklaagte-kliniek afgelaai en het beswyk aan sy skietwonde.
Volgens die polisie het twee mans Nomokonde met sy eie voertuig afgelaai en op die vlug geslaan. Die voertuig is later in bosse agtergelaat gevind.
Enigiemand met inligting is gevra om kaptein Thamsanqa Shabalala te kontak by 082-923-0081.


×