100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Written by on April 27, 2020

Wanneer Suid-Afrika op 1 Mei Vlak 4 van die inperkingstyd binnegaan, sal almal verplig wees om gesigsmaskers te dra wanneer hulle in die openbaar beweeg. Dit sluit alle personeel en werkers van besighede wat oop mag wees in, maar ook enigeen wat buite die veiligheid van sy woonplek beweeg. Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het reeds vroeg in die bestrydingsveldtog Suid-Afrikaners gevra om maskers te dra. Hy het ook gesê dat dit nie noodwendig mediese maskers moet wees nie, aangesien dit eerder deur gesondheidswerkers gebruik moet word.

Materiaalmaskers, veral indien dit ’n drielaagmasker is, sal net so suksesvol wees, het hy gesê. Alhoewel wetenskaplikes aanvanklik verskil het oor die effektiwiteit van die dra van ʼn masker om die verspreiding van die koronavirus te voorkom, wil dit lyk asof daar al hoe meer navorsing is wat bevestig dat dit wel baie effektief is. Baie mense wat deur die koronavirus besmet is, toon nie dadelik enige simptome nie. In die tydperk voordat hulle begin simptome toon, kan hulle honderde mense aansteek met die virus. Indien hulle wel ’n masker dra, word die verspreiding van die virus in ’n groot mate beheer.

’n Bekende Amerikaanse hospitaal en navorsingskliniek, die Mayo-kliniek, het op Vrydag 24 April hulle nuutste bevinding rakende die dra van ’n masker bekendgestel. Die dra van maskers saam met ander voorkomende maatreëls soos hande wat gereeld gewas word en sosiale distansiëring maak die verspreiding van die koronavirus ongetwyfeld stadiger. Wetenskaplikes van die kliniek waarsku egter dat die dra van ’n materiaalmasker van geen waarde is indien dit nie gekombineer word met hande wat gereeld gewas word nie, sowel as sosiale distansiëring. Hulle gee ook die volgende wenke:
• Jou masker moet jou neus en mond bedek.
• Moenie aan die masker raak terwyl dit op jou gesig is nie.
• Indien jy per abuis aan die masker raak, was jou hande of ontsmet dit.
• Haal die masker af sonder om aan die voorkant te raak, bloot deur die rek of die tou om die oor los te maak.
• Was jou hande onmiddellik nadat jy die masker afgehaal het.
• Was jou masker met seep en water in die wasmasjien. Jy kan dit saam met ander klere was.
Onthou ook:
• Moenie ’n masker op iemand se gesig plaas wat sukkel om asem te haal nie, wat bewusteloos is of wat nie in staat sal wees om die masker sonder hulp te verwyder nie.
• Moenie maskers op die gesig van ’n kind jonger as 2 plaas nie.
• Maskers is nie ’n plaasvervanger vir sosiale distansiëring nie.

Grafika: https://sacoronavirus.co.za/
Besoek: https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/coronavirus/in-depth/coronavirus-mask/art-20485449


×