100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mandla Msibi maak sy terugkeer na Mpumalanga premier se kabinet

Written by on October 7, 2022

Mandla Msibi is weer ‘n LUR in Mpumalanga, na moordklagtes teen hom teruggetrek word
Premier Refilwe Mtshweni-Tsipane het vanoggend vir Mandla Msibi heraangestel as ‘n LUR in die provinsiale regering. Hy vervang die provinsiale voorsitter van die ANC, Mandla Ndlovu, as LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta).
Msibi was voorheen LUR vir landbou, tot hy verlede jaar afgedank is nadat hy van twee moorde en poging tot moord aangekla is.
Die aanklagte is in September teen hom en sy medebeskuldigdes in die Hooggeregshof in Mbombela teruggetrek.
Die groep is aangekla van moord en poging tot moord na ‘n skietvoorval in Augustus 2021 waartydens Sipho Lubisi en Dingane Ngwenya doodgeskiet en Sifiso Mpila gewond is.
Msibi is in April tot tesourier van die ANC in Mpumalanga verkies, maar het opsy gestaan. Hy het intussen hierdie amp opgeneem.
Volgens Mtshweni-Tsipane is dit “belangrik dat ons mense in leierskapsposisies plaas wat die unieke aard van ons uitdagings verstaan en wat suksesvolle dienslewering kan dryf”.
Sy het verder aangekondig dat Ndlovu skuif na die departement van openbare werke, paaie en vervoer, waar hy Mohita Latchminarain as LUR vervang.
Nompumelelo Evidence Hlophe is die nuwe LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme (Dedt).
Sy is lid van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) en vervang Vusi Mkhatshwa as LUR.
Die premier het Latchminarain en Mkhatshwa vir hul diens bedank.
Jane Sithole, die DA leier in Mpumalanga, het die verwydering van Mkhatshwa verwelkom, maar dié van Latchminarain betreur.
Sy sê die party is versigtig optimisties oor Msibi se aanstelling by Cogta.

Sithole het die aanstelling van Hlophe by Dedt as “skokkend” beskryf.

“Sy sal waarskynlik voorgesê word en sal nie enige strategiese besluite kan neem wat ons ekonomie en toerisme sal bevorder nie.”


×