100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Man doodgeskiet tydens gewapende roof by Rocky Drift

Written by on June 17, 2021

‘n Man is dood nadat hy gisteraand tydens ‘n gewapende roof by sy huis in Rocky Drift geskiet is.
John Meintjies van ACS Sekuriteit sê vyf mans, waarvan ten minste een gewapen was, het by verskillende huise probeer inbreek.
By dié betrokke huis het die inwoner hom verset en hy is in die buik gewond.
Hy het later in Kiaat-hospitaal beswyk.
Volgens Meintjies is dit onbekend of enigiets gesteel is. Die mans het te voet gevlug.

Lizard Rock in die Uitkyk-omgewing is op soortgelyke wyse vanoggend aangeval.
Meintjies sê dit het om ongeveer 08:00 gebeur. ‘n Groep van vyf of ses verdagtes het die eienaar vasgebind en klein items, soos selfone, uit die kroeg en sy naburige huis gesteel.
Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice het bevestig dat een van hulle ‘n polisie-reflekteerbaadjie aangehad het.
Meintjies sê hulle het met hul eie wit enkelkajuit Toyota-bakkie sonder nommerplate gevlug.

Verder het die polisie ‘n grootskaalse soektog geloods na verdagtes wat in twee afsonderlike voorvalle van moord en brandstigting vyf mense in Bosbokrand en Madras om die lewe gebring het.
Volgens polisiewoordvoerder brig. Leonard Hlathi, het die voorvalle vroeg gisteroggend plaasgevind.
‘n Pa, ma en hul twee kinders is deur vier verdagtes in hul huis in Madras naby Hazyview in “teregstellingstyl” doodgeskiet. Die huis is daarna aan die brand gesteek.
Eckson Five Ndlovu (59), Martha Ndlovu (53) en hul twee dogters, Lovenecia Ndlovu (14) en Permission Ndlovu (12), is dood. ‘n 25-jarige familielid het die skietery oorleef en kon by die bure alarm maak.
In die ander voorval het ‘n groep mans na bewering ‘n huis binnegestorm en die slapende Caswell Maphanga (25) doodgeskiet voor hulle die huis afgebrand het.
Hlathi sê hulle glo dié moord is verwant aan bendegevegte.
Hulle vra Skhumbuzo Madalane en Bonginkosi Shakoane om hulle te kontak omdat hulle in die ondersoek sal kan help. Kontak speurder luit. kol. Elizabeth Bhiya by 072-015-8022 of speurder kapt. Dexter Ndlovu by 082-922-9902 of 083-312-4305.


×