100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Lydenburg Rusoord kondig harde inperking aan

Written by on June 14, 2021

Rusoord-ouetehuis in Lydenburg sal van vandag af geen meer besoekers toelaat nie, weens die derde vlaag van die Covid-pandemie.
Voorsitter van die beheerraad, Karin Steenekamp, sê daar is tans twee positiewe gevalle onder hulle sowat 63 inwoners, en die staking van besoeke is ‘n voorsorgmaatreël.
Lydenburg Rusoord het verlede week en oor die naweek bevestiging gekry van die positiewe gevalle. Dit is die eerste twee gevalle wat hier aangemeld is sedert die pandemie in Maart 2020 aangekondig is.
“Die bestuur doen alles in hul vermoë om die protokol te volg,” sê Steenekamp.
Die twee inwoners is onmiddellik in isolasie geplaas en hul kamers is deur Soetdoring plaagbeheer ontsmet.
Die personeel word gereeld ontsmet, hulle vul daagliks protokol vorms in en hul temperatuur word elke dag gereeld geneem. Beskermende drag word ook gedra wanneer enige van hulle met die geïsoleerde inwoners in aanraking kom.
Die ander inwoners word goed gemonitor.
“Ons vra dat die publiek sal kalm bly en nie paniek saai nie,” voeg sy by. “Alles is onder beheer.
“Soos ons, ons inwoners tot nou toe gesond gehou het, gaan ons ook hierdie situasie deursien en ons bes doen om enige verdere infeksies te voorkom.”


×