100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Neem jou pen op vir Kuns inni Liedjiebos

Written by on March 22, 2023

Die veelsydige musikant Lizanne Barnard is op soek na oorspronklike gedigte.
Dit sal getoonset word of in kunswerke in verskillende genres omskep word wat tydens vanjaar se Innibos Kunstefees uitgestal word.
“Dit is een van die min produksies wat afhanklik is van die publiek,” sê Barnard. “Ons kan dit nie sonder julle doen nie.
“Waag jou hand en skryf, dalk vir die eerste keer, ‘n gedig,” nooi sy.
Gedigte (in Afrikaans of Engels) moet by die tema van die fees aansluit. Vanjaar is dit “vars”.
Die lengte maak nie saak nie, solank dit gebaseer is op die volgende vier woorde vir inspirasie: Vars, vernuwe, groei en gelukkig.
Sy gesels met die Sonop Ontbyt-span. Luister hier.

“Kuns kan nie in afsondering beoefen word nie,” sê Barnard. “Met Liedjiebos begin ons by die woord, maar dan kring dit uit om verskillende skeppende kuns in te sluit.
“Ek glo elkeen van die deelnemers sal geïnspireer word deur die samewerking, en mekaar uitdaag om so kreatief moontlik met die tema om te gaan.”
Van die kunstenaars wat genader is om van gedigte te verbeeld, sluit in die Laeveldse keramiekkunstenaars Anton en Hanlie Bosch, en skilders Ilona Petzer en Mariana de Zwaan.
Vir die toonsettings pak Barnard ’n verskeidenheid style aan, van klassieke kwartet en ’n kinderkoor, tot marimba en fluit, trom en kitaar. Een van die gedigte sal ook as ’n dans verwerk word.
Innibos Kunstefees is vanjaar van 29 Junie tot 2 Julie in Mbombela. Weens die Covid-19-pandemie, is dit die eerste volwaardige fees sedert 2019.
Die gala-vertoning van Kuns inni Liedjiebos is op Vrydag, 30 Junie, om 18:00 by Christies at 32 on Russell in Mbombela.
Die gaskunstenaar vir die aand is Jan Blohm, en van sy skilderwerk sal tydens die feesweek by Christie’s saam met die ander kunswerke uitgestal word.
Stuur gedigte na [email protected].
Die inskryfgeld is R50 per gedig en kan inbetaal word by Word, Stil, Capitec Bank, rekeningnommer 1574137164. Die verwysing is die digter se naam, van, en Liedjiebos.


×