100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Kommer oor toename in kapings, smokkel van voertuie

Written by on August 30, 2022

Die provinsiale regering is bekommerd oor die toename in kapings en die smokkel van motors. Dit volg nadat 36 voertuie teruggevind en 22 verdagtes aangekeer is langs die grens met Mosambiek.
Volgens die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Vusi Shongwe, het die provinsiale regering ‘n grensbestuursprogram in werking gestel met 200 grensbestuursowerheidswagte wat in kwesbare distrikte naby die grensgebied ontplooi is.
Intussen is ‘n 31-jarige man gister in die been geskiet deur twee kapers by sy huis in Shatale naby Bosbokrand. Hy is ook van sy selfoon en kontant beroof en deur die aanvallers in ‘n bebosde gebied afgelaai.
Sy wit Mercedes Benz is later by Phola naby Masoyi agtergelaat gevind. Die slagoffer sterk aan in die hospitaal.
Twee sekuriteitswagte is Donderdag ook in Bosbokrand beroof. Twee verdagtes het op hulle geskiet. Hul dienspistole, maatskappyvoertuig, twee selfone en ‘n koeëlvaste baadjie is gebuit. Die voertuig is later agtergelaat teruggevind.
Ook in Bosbokrand is ‘n sekuriteitswag Vrydag in die gesig geskiet toe vyf transitorowers hom by ‘n vulstasie oorval het. Hy was besig om kontant af te haal. Die rowers kon met ‘n onbekende bedrag kontant vlug.
Enigiemand met inligting is gevra om die ondersoekbeampte, kapt. Evans Mashego, te kontak by 082-319-9732.


×