100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Katgriep: Voorkoming beter as genesing

Written by on March 12, 2021

Die dodelike en hoogs aansteeklike parvovirus, wat katgriep in honde veroorsaak, kom toenemend ook onder ouer honde voor.
So sê Ulandi du Toit, ‘n veearts by West Acres-dierehospitaal. Sy voeg by dat dit dikwels meer voorkom na goeie reën, maar tans sien hulle nie ‘n groot opbloei daarvan in die Laeveld nie.
Dit is anders as in Kaapstad, waar die aantal bevestigde positiewe gevalle van parvovirus by honde aanhou styg.
Die beste verweer is om jou diere daarteen in te ent. Dit moet op ses, nege en 12 weke toegedien word, en daarna jaarliks.

“Wat ons wel sien is dat meer ouer hondjies dit kry,” sê sy.
“Dit is belangrik dat hulle dadelik inkom vir behandeling wanneer hulle begin opgooi, want hulle ontwater vinnig.”
Die virus affekteer honde se ingewande en witbloedselle, wat hulle baie siek maak. Simptome is ‘n gebrek aan eetlus gevolg deur braking en erge diarree. Soms is daar bloed in die magie.
“Witbloedselle is die liggaam se soldate, so met die virus het hulle niks om mee te baklei nie. Hulle word báie siek,” sê sy.
“Nuwe studies toon ouer honde kry dit ook. Daarom is baie belangrik dat hondjies ingeënt word elke jaar.”
Dit neem so vier tot sewe dae vir simptome om te ontwikkel. Waar ‘n hond ingeënt is, behoort hulle dit egter nie te kry nie.
“Inenting is baie goedkoper as behandeling,” voeg Du Toit by. “Dit kan meer as ‘n week duur en parvo is verskriklik om te sien. Voorkomende medisyne is maar beter.”
Die virus is baie aansteeklik en bly vir tot agt maande in ‘n omgewing. “As jy dit op jou erf gehad het, moet eerder nie ‘n nuwe hondjie in daardie omgewing inbring nie vir agt maande,” is haar raad.


×