100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Hoërskool Nelspruit word 70 jaar oud

Written by on July 29, 2022

Hoërskool Nelspruit (NHS) is vandag 70 jaar oud. Verskeie oudleerlinge en mense verbonde aan die skool het hul gelukwensings met hierdie mylpaal gedeel.
Hendrik van Dyk, hoofseun in 1978, skryf dat die skool in 2022 ‘n beter plek is as in sy stigtersjaar.
“Om na die nuus te kyk, kan die indruk maklik gewek word dat daar niks goed in die wêreld is nie – dit is proteste, stakings, moord en roof, twyfelagtige politici en burgeroorloë. Maar gemeet aan enige maatstaf, is die wêreld van 2022 ‘n beter plek as dié van 1952 en 1978. Die mensdom is slimmer, ons almal het ‘n beter lewensstandaard, tegnologies is ons meer gevorderd, ons werk meer en slimmer, presteer beter op die sportveld, ons gesondheidsorg is beter ens.
“NHS is op sy 70ste verjaarsdag ook ‘n beter skool met beter geriewe en beter, slimmer en meer toegewyde leerders as in 1952.
“Die NHS van 1978 is moeilik te vergelyk met dit wat julle nou ken en beleef. Die standaard van geboue, sportvelde en ander fasiliteite was ondenkbaar in ons tyd. Julle sal moeilik glo dat geen van die deure van die skool en koshuis ooit gesluit is nie (Matrone moes van tyd tot tyd die groot yskas sluit as die vrugte, melk en kaas te vinnig ‘gebruik’ was).
“Ons het nie die gerief van wegneemetes gehad nie en moes uitsluip na die kafee by die stasie om slaptjips en koeldrank vir jou gang te koop. Die enigste risiko was dat die onderwyser aan diens toevallig by die oop deur sou verbyloop. Die korrektiewe optrede is daar en dan uitgemeet en die saak was afgehandel.
“Om af te koel (asook vir ontspanning voor en na die rugbyseisoen) moes ons deur die veld draf, waar Valencia nou is, om in die Krokodilrivier te gaan swem en botterklappers in seisoen te eet.
“So beste Nellie, as iemand na aan jou weer reken dat ons nou in moeilike tye lewe, dat ons sulke besige programme het, dat dit nog nooit so swaar en kompeterend gegaan het nie, ons moreel verarm het, moenie dit glo nie! Net soos NHS is die wêreld nou ‘n beter plek en sal julle dit nog beter maak vir die volgende geslagte.
“Geniet elke oomblik van jou loopbaan as ‘n Nellie. Bou aan herinneringe van jou skoolloopbaan en vriende. NHS sal bou aan jou siel. Wanneer jy eendag met uitdagings gekonfronteer word, of alleen is op ‘n nat koue nag, gaan jy diep binne in jou soek na krag en die sin van die lewe. Dit gaan jy net kry in jou eie siel. Dit waaraan jy soos talle Nellies voor jou die afgelope 70 jaar aan gebou het in Hoërskool Nelspruit.”


×