100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Goeie nuus oor die brandstofprys

Written by on May 1, 2020

Midde in die negatiewe nuus waarmee ons van alle kante oorval word, kan verbruikers breed glimlag oor die nuus dat petrol en diesel vanaf eerskomende Woensdag die laagste gaan wees in bykans vier jaar.

Die prys van petrol, alle grade, daal met R1,73 per liter. Die groothandelprys vir diesel met 0,05% swael daal met R1,61 per liter en die met 0,005% swael daal met R1,56 per liter. Vanaf Woensdag 6 Mei gaan jy R2,97 per liter minder vir paraffien betaal en gas daal met R2,62 per kilogram. Netwerk 24 berig dat met hierdie dalings sal petrol byna so goedkoop wees soos in September 2016 en diesel soos in Desember 2016.

Alhoewel motoriste nie self lang afstande mag aflê nie, hou die groot daling in die prys van brandstof goeie nuus vir alle verbruikers in. Dit beteken dat die pryse van kos en alle produkte wat vanaf 1 Mei weer te koop aangebied word, nie skerp sal styg weens hoë vervoerkoste wat veroorsaak word deur hoë brandstofpryse nie. Die hele krisis rondom Covid-19 en wêreldwye inperkings het ʼn groot daling in oliepryse te weeg gebring. Brent-ru-olie het in April onder $20 per vat gedaal voordat dit nou weer effens hoër is.

Ongelukkig veroorsaak die swak vertoning van die Rand teen die Dollar dat die prys van brandstof nie nog laer is nie. Dit is ook nou die vyfde agtereenvolgende maand wat die prys van petrol daal en die vierde agtereenvolgende maand wat die prys van diesel daal. Met die daling wat Woensdag in werking tree, sal 95-oktaan-petrol in Gauteng R4,08 per liter goedkoper wees as aan die begin van die jaar en aan die kus sal dit R4,14 goedkoper wees.

 

Bron:
https://www.netwerk24.com/Sake/Energie/petrolprys-vir-mei-so-lyk-jou-besparing-nou-20200430


×