100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Etienne van Wyk se vermeende moordenaar verskyn in die hof

Written by on November 24, 2020

Amper 14 jaar na Etienne van Wyk in sy huis in Steiltes, Mbombela, vermoor is, het sy vermeende moordenaar gister in die hof verskyn.
Die 29-jarige Van Wyk is destyds ook gemartel voor hy in Januarie 2007 dood is. Daar is berig dat hy verskeie wonde aan sy kop en liggaam gehad het.
Hy was ten tyde van sy moord ‘n sakeman. Hy was in sy jonger dae ook ‘n professionale fietsryer wat in 1998 as die land se o.23-padfietskampioen gekroon is.
Die man wat van sy moord aangekla word, is op 12 November in Elukwatini aangekeer.
Mafika Ronnie Nkosi (42) het gister vir die eerste keer op die klagte in die Nelspruit-landdroshof verskyn.
Die Mpumalanga Valke se woordvoerder, kapt. Dineo Sekgotodi, sê die saak is deur plaaslike speurders ondersoek voor dit aan die Valke oorhandig is. Nkosi is toe deur forensiese bewyse aan die moord gekoppel.

Volgens Sekgotodi was sy arrestasie in samewerking tussen die Mpumalanga Valke en Elukwatini speurders wat hom opgespoor en aangekeer het.
Sy verduidelik dat daar beweer word dat die verdagte die aand van die moord toegang tot die perseel verkry het, deur ‘n gat in die heining om die agterplaas te sny.
Die provinsiale hoof van die Valke, maj. gen. Zodwa Mokoena, het die span gelukgewens dat hul harde werk vrugte afgewerp het. Die kriminele rekord-sentrum was ook betrokke.
Mokoena het ‘n beroep gedoen op alle eenhede om saam te werk om misdaad hok te slaan.
Nkosi bly in aanhouding tot sy volgende verskyning in dieselfde hof, op 11 Desember.


×