100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Elf verdagtes vas na skietery met polisie

Written by on August 10, 2020

Elf mense sal na verwagting Dinsdag in die Calcutta-hof verskyn, nadat hulle Saterdag in Marite naby Hazyview in ‘n skietgeveg met die polisie betrokke was.
Die woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, brig. Leonard Hlathi, sê die mense was by ‘n partytjie by die Marite-sportgronde na afloop van ‘n begrafnis.
Van hulle het glo geweerskote lukraak afgevuur en voertuie “gespin”.
Die polisie is ontbied. Die verdagtes het na bewering op hulle geskiet en twee polisieoffisiere is gewond.
Die polisie het teruggeskiet, en twee aanvallers is noodlottig gewond. ‘n Derde verdagte is ook raakgeskiet.
Hy is onder polisiebewaking in die hospitaal. Volgens Hlathi sterk al drie goed aan.
Een van die verdagtes wat noodlottig gewond is, was in besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.
Ammunisie is ook op die toneel gevind en ‘n polisievoertuig is beskadig.
Die elf verdagtes is almal tussen die ouderdomme van 25 en 35.
Klagtes van poging tot moord, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en kwaadwillige saakbeskadiging word ondersoek.
Die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Mondli Zuma, het die voorval ten sterkste veroordeel.
Hy het die arrestasies verwelkom en die beseerde polisieoffisiere ‘n spoedige herstel toegewens.
Verskeie polisiestasies in die Laeveld is tans ook tydelik gesluit, nadat SAPD-lede positief getoets het vir Covid-19.
Die stasies in Waterval Boven en Masoyi sal Woensdag weer vir die publiek heropen, en Barberton teen Donderdag.
Intussen word die munisipale geboue in Vierdestraat in Waterval Boven gebruik. Bel 079-891-5049 of 082-318-9907 om noodgevalle aan te meld.
In Masoyi word ‘n tydelike struktuur by die stasie gebruik. Bel 082-303-9869.
In Barberton dien De Villiersstraat 64 as tydelike stasie. Kontak die stasie deur 013-712-2233 of 082-923-1593 te skakel.


×