100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Opdatering: Amptenare kry borg na R60 m. beweerde bedrog

Written by on September 15, 2022

Drie amptenare wat gister deur die Valke aangekeer is vir vermeende bedrog, diefstal en geldwassery van R60 miljoen is elk borgtog van R15 000 toegestaan.

Thabang Clifford Khumalo (41), Nonhlanhla Precious Matsheka (42) en Nkosinathi Mahlalela (36) het vandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn.

Hulle is werksaam by onderskeidelik Mbombela-munisipaliteit en die verkeersdepartemente in Nelspruit en Witrivier.

Die saak is uitgestel tot 29 September wanneer hulle saam met ses ander beskuldigdes sal verskyn wat in Julie reeds in verband met die saak aangekeer is.

============

15 September, 13:40

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid het die arrestasie verwelkom van drie amptenare wat gister deur die Valke by onderskeidelik Mbombela-munisipaliteit en die verkeersdepartemente in Nelspruit en Witrivier aangekeer is.

Ses ander verdagtes is in Julie in verband met die vermeende bedrog, diefstal en geldwassery van R60 miljoen vasgetrek.

Vusi Shongwe sê enige korrupsie in die lisensiëring van voertuie of bestuurders moet uitgeroei word, omdat dit lewens bedreig en die staatskas van broodnodige inkomste ontneem.

“Ons land het een van die hoogste vlakke van noodlottige padongelukke in die wêreld en daarom moet ons harder werk om enige oneerlikheid in lisensiëring uit te roei.”

Hy het die publiek aangemoedig om enige gevalle by die polisie aan te meld by 086-00-10111 of die teenkorrupsie-blitslyn by 0800-701-701.

Die drie verdagtes verskyn vandag in die hof.

===========

14 September, 11:05

Drie munisipale werknemers is vanoggend deur die Valke aangekeer by onderskeidelik Mbombela-munisipaliteit en die verkeersdepartemente in Nelspruit en Witrivier.

Volgens die woordvoerder vir die Valke in Mpumalanga, kapt. Dineo Sekgotodi, was dit ‘n gesamentlike operasie tussen die Valke en die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) van Gauteng.

Die drie sal na verwagting môre in die Nelspruit-landdroshof verskyn op klagte van bedrog, diefstal en geldwassery van R60 miljoen.

Hulle sluit aan by ses ander wat in Julie aangekeer is in verband met dieselfde saak. Volgens die Valke het hulle saam met vragmotoreienaars gekonkel om hul voertuiglisensies te hernu deur die stelsel te manupileer en die geld in eie sak te steek.

Lees meer: Ses vas wat met lisensies konkel

Elkeen is borgtog van R15 000 toegestaan. Die saak is uitgestel tot 29 September.

Nog arrestasies word verwag.


×