100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Dodetal van gru-ongeluk styg tot nege

Written by on February 17, 2022

Die dodetal van die minibus ongeluk gistermiddag, waarin verskeie laerskoolleerlinge dood is, het tot nege gestyg.
Hulle was op pad huis toe van skool af toe die taxi om ongeveer 15:30 op die D267 tussen Dundonald en Mayflower gerol het. Al die leerlinge was tussen vyf en 13 jaar oud en was leerlinge aan Tisiteni, Sitanani en Wesley laerskole.
Sewe kinders is op die toneel dood, en een het later in die hospitaal beswyk.
Die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid se woordvoerder, Moeti Mmusi, sê ‘n negende liggaam is intussen gevind waar dit uit die voertuig geslinger is en etlike meters verder in ‘n rivier beland het.
Dit is gevind tydens ‘n soektog van die area deur die polisie en gemeenskapslede.
Tien leerders is beseer en word in die Embuleni-hospitaal in Elukwatini behandel.
Die bestuurder is intussen gearresteer en word aangekla van nege gevalle van mansslag. Hy word ook aangekla dat hy nie ‘n geldige lisensie kon toon nie, die voertuig oorlaai het en ‘n onpadwaardige voertuig bestuur het.
Hy sal na verwagting môre in die Elukwatini-landdroshof verskyn.
Die LUR vir onderwys in Mpumalanga, Bonakele Majuba; LUR vir veiligheid, Vusi Shongwe; en die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het hul medelye met die families betuig.
Die provinsiale onderwysdepartement se Jasper Zwane sê amptenare van die onderwysdepartement en maatskaplike ontwikkeling sal die leerlinge se drie skole besoek.

Shongwe het die ongelukstoneel reeds besoek.
Mmusi sê ‘n taakspan sal saamgestel word om ondersteuning aan leerlinge en onderwysers te bied, en die families met die begrafnisreëlings te help.


×