100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Die winter-hereksamen vir matrieks word uitgestel

Written by on April 20, 2020

Leerders wat sekere vakke kort om matriek te slaag, of wat beplan om beter matrieksimbole te kry, het ekstra voorbereidingstyd gekry weens die ontwrigting van die inperkingstydperk. In ʼn persverklaring wat deur die departement van basiese onderwys uitgereik is, is daar aangekondig dat die Mei-Junie hereksamen vir matrieks uitgestel word tot November 2020. Dit geld vir beide die hereksamen vir die gewysigde senior sertifikaat – die ou matriek – en die nasionale senior sertifikaat. Volgens die departement word meer as 350 000 deeltydse kandidate daardeur geraak. Hulle het nie aan die slaagvereistes in die 2019-finale eksamen voldoen nie.

Daar is ook kandidate wat die vraestelle wou herskryf om hul punte te verbeter. In ʼn brief aan die hoofde van die provinsiale onderwysdepartemente sê Mathanzima Mweli, die direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, dat die staat van inperking skole ontwrig het en daarom moet die Mei-Junie hereksamen van 2020 uitgestel word. Die eksamen sou van 4 Mei tot 26 Junie geduur het. Verdere besonderhede sal later verskaf word en alle kandidate sal inligting ontvang rakende registrasie, eksamensentrums en roosters.

Die departement het ʼn beroep op al die kandidate gedoen om steeds voort te gaan met die voorbereiding en hulle aangemoedig om van leer- en hersieningsmateriaal gebruik te maak wat op die departement van basiese onderwys se webblad beskikbaar is. Daar is ook heelwat hulpbronne en leermateriaal vir leerders in ander grade beskikbaar.
Besoek https://www.education.gov.za/ vir meer.


×