100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

DA vra MRK om in te gryp by Thaba Chweu-kosskool

Written by on March 2, 2022

Die DA in Mpumalanga het die Menseregtekommissie gevra om in te gryp in die waterkrisis by die Thaba Chweu-kosskool.
Volgens Jane Sithole is die skool se sowat 800 leerlinge huis toe gestuur omdat daar nie water is nie.
Gedurende die debat gister in die wetgewer oor die premier se provinsiale rede het die DA ‘n mosie gebring vir die regering om die waterprobleem dringend op te los, maar die ANC het dit verwerp.
Sithole sê leerlinge word van hul toekoms beroof.

Intussen sê die VF Plus in Mpumalanga dat praatjies oor werkskepping, infrastruktuurontwikkeling en die herlewing van toerisme in die rede niks beteken sonder werkbare maniere oor hoe om dit te bereik nie.
Die premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, het Vrydag verskeie projekte aangekondig, ten spyte van die feit dat groot projekte al vir jare sloer.
Volgens Werner Weber het sy geen oplossings gebied oor wat gedoen gaan word om munisipaliteite te dwing om hul grondwetlike plig teenoor inwoners na te kom nie.

Mtshweni-Tsipane het Vrydag tydens haar rede in die wetgewer in Mbombela onder meer gesê haar administrasie het slapelose nagte oor die “astronomiese” hoë werkloosheidsyfer in die provinsie, veral die toenemende werkloosheid onder jeugdiges as kommerwekkend en onvolhoubaar beskryf.
Sy voeg by dat daadwerklike aksie nodig is. Die provinsiale regering kon die afgelope 10 jaar slegs daarin slaag om sowat ‘n kwart van hul teiken van 105 000 werksgeleenthede per jaar te skep.
Volgens die premier is onder meer massiewe vaardigheidsontwikkeling nodig.

Foto: Die LUR vir onderwys, Bonakele Majuba (regs), open die kosskool se mediasentrum in September 2020 saam met Kusile Ntunzi-Hairwadzi, die algemene bestuurder van die MTN Foundation wat R750 000 daarin belê het.


×