100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid eis merkwaardige Hazyview-dokter

Written by on January 19, 2021

Dr. Robbie Nel, ‘n bekende huisdokter van Hazyview en Sabie, is laat gistermiddag op 77-jarige ouderdom in die hospitaal oorlede nadat hy Covid-19 opgedoen het.
Hy sou op 29 Januarie 78 jaar oud geword het.
Hy is deur familie, vriende en pasiënte beskryf as ‘n legende en iemand wat buitengewoon baie vir ander omgegee het en ‘n groot leemte in die gemeenskap laat.

Volgens sy skoonsuster, Sonja Oosthuizen, het Nel die oggend na Kersfees saam met sy seun gaan draf. Sy hartklop het die hoogte in geskiet, en toe stap hy terug huis toe en gaan vir ‘n Covid-toets.
“Dit is wat vir ons amper die ergste is: hy het geweet wat besig was om te gebeur.”
Hy het homself meer as ‘n week by die huis self gedokter, voor hy op 5 Januarie in die hospitaal opgeneem is. Daar was hy in ‘n gewone saal, tot vyf dae voor sy dood, toe hy aan ‘n ventilator gekoppel is.
“Hy was ongelooflik onselfsugtig met ‘n ‘wicked’ sin vir humor,” beskryf sy haar geliefde swaer.
Nel se skoondogter, Cheri Nel, skryf dat hy op sy ouderdom steeds ‘n voltydse dokter, boer, én vlieënier was.
Hy het ook elke dag fietsgery of gehardloop en het 13 Comrades-medaljes op sy kerfstok gehad.
Sy jarelange vriend, Dawie Wille, sê sy vriende was besonders belangrik vir hom.

“Hy was ‘n passievolle mens met alles wat hy aangepak het. Hy was geweldig nederig. Hy het alles opsy geskuif om daar te wees vir sy vriende.
“Ons het saam met Robbie en Linda, vriende en familie op 25 Desember Kersfees gevier.
“Hy en Linda het gereeld onthaal. Dan het hy self die spyskaart opgetrek en die kos voorberei en ons het dit om ‘n tafel saam geniet.


Nel was altyd beskikbaar vir sy pasiënte en vriende. “Hy was so innemend: hy het gestop en in jou oë gekyk en geluister na wat jy gesê het, altyd. Hy het ook die hoogste agting vir sy mediese kollegas gehad.”
Wille vertel hy was ook baie lief vir vlieg. Hy het onlangs nog ‘n spesialis na sy suster toe gevlieg om haar te help. “Hy het elke geleentheid aangegryp om iemand te help.”
Hy het die boerdery ook baie geniet – met makadamias, piesangs, gemmer en koffie. “Jabu Coffee was sy en Linda se trots,” sê Wille.
Nel word oorleef deur sy vrou, Linda; drie kinders, Robert, Paula en Zani; en twee kleinkinders.
Besonderhede van die gedenkdiens is nog nie bevestig nie.




×