100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Bevestiging oor vermiste veldwagter dalk gouer as verwag bekend

Written by on January 18, 2021

SANParke hoop om nie tussen ses en agt maande hoef te wag vir bevestiging of die vermiste veldwagter, Checkers Mashego (51), se oorskot wel gevind is nie.
Dié ervare veldwagter is laas op 17 November in die Stolsnek-area van die Krugerwildtuin gesien, terwyl hy en ‘n kollega op patrollie was.
Menslike oorskot is op 17 Desember daar naby gevind, saam met items wat deur veldwagters gebruik word en wat moontlik aan Mashego kon behoort het.
Daar word daarom vermoed dat dit Mashego kan wees, maar dit moet eers deur forensiese analise bevestig word.
Die woordvoerder van die wildtuin, Ike Phaahla, sê die polisie het hulle die onderneming gegee om die toetse so spoedig moontlik af te handel, om Mashego se familie en kollegas afsluiting te kan gee. 

“Dit neem volgens die polisie gewoonlik tussen ses en agt maande, weens ‘n agterstand by die laboratoriums, maar hulle het onderneem om dit so spoedig moontlik af te handel, sodat die Mashego-familie, sy kollegas en die organisasie afsluiting kan kry,” sê Phaahla.
Hy het bevestig dat die ondersoek voortduur en ‘n nadoodse ondersoek gedoen sal word as dit as Mashego se oorskot bevestig word.
Hy was die betrokke dag met ‘n kollega op patrollie toe hulle net voor laaste lig verwittig is om iets langs die Nsilikazi-rivierbedding te ondersoek.
Hulle het uiteen gegaan en sou by ‘n brandstrook ontmoet. Mashego het nooit by die ontmoetingsplek opgedaag nie en sy kollega het alarm gemaak.
Daar is onverpoosd na hom gesoek, tot die menslike oorskot gevind is.
Mashego het ten tyde van sy verdwyning sy geweer, radio en selfoon by hom gehad.
Dis die eerste keer dat iemand so lank vermis geraak het in die wildtuin.



×