100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Boorwerk na kennis skop af in Makhonjwa-berge

Written by on January 25, 2022

‘n Opwindende projek het in die wêreldbekende Makhonjwa-berge buite Barberton begin om te bepaal hoe die aarde gevorm het, en of die alge wat daar te vinde is, die oudste bekende lewensvorm op aarde is.
Geoloog Phumelele Mashele verduidelik wat die berge so spesiaal maak en wat dit die mens alles kan leer. Luister hier:

Die Moodies-groep berge is nog nie vantevore intensief bestudeer nie. Die projek behels om 400 meter in die berge in te boor om monsters van die ou gesteentes uit die dieptes te haal. Omdat dit onaangetas is deur die elemente, behoort die oorspronklike minerale behoue gebly het en sal analise daarvan antwoorde kan verskaf op vrae oor die prosesse wat miljarde jare gelede plaasgevind het toe die aarde gevorm het.

Die boorgate is elk kleiner as 6 cm in omtrek.
Geoloog Rodney Tucker verduidelik dat die helfte van die monsters Duitsland toe gestuur sal word waar argeoloë van 20 lande dit sal analiseer as deel van die Internasionale Kontinentale Boorprojek (ICDP). Die ander helfte sal by die Suid-Afrikaanse geologiese opname in Pretoria bewaar word vir plaaslike, en toekomstige, wetenskaplikes.
Die publiek is genooi om te kom kyk wat hulle doen op die gewilde Geotrail langs die R40.

Die boortuig behoort tot einde Februarie in aksie te wees. Groepe van meer as tien mense word aanbeveel.
Besoekers kan ‘n besoek vooraf reël deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected].
Meer inligting oor die projek is beskikbaar by die Barberton Museum weeksdae 08:30 tot 16:00 sowel as op die Facebook-blad Moodies-BASE Project.
Kyk ook die volledige onderhoud met Tucker en Mashele hier:


×