100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Big Joe uit op borg na vermeende moord

Written by on July 28, 2020

Die vermeende moordenaars Joseph Nyalungu (56) en Elvis Mulimi (50) sal nie vandag in die hof in Witrivier verskyn nie.
Die twee is aanvanklik Woensdag van die moord en ontvoering van Willy Shipalane (36) tien jaar gelede aangekla. Hulle sou vandag om borgtog aansoek gedoen het.
Monica Nyuswa, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Mpumalanga, het egter bevestig dat die twee Vrydag reeds voor landdros Winnie Baloyi verskyn het.
Hulle is vrygelaat op borgtog van R1 000 elk.
Volgens die woordvoerder van die Valke, kapt. Dineo Sekgotodi, is die moord na bewering in Februarie 2010 in Hazyview gepleeg. Shipalane se liggaam is in Inyaka-dam gevind.
Volgens Sekgotodi was hy en Nyalungu bure. Shipalane het glo vir Eskom gewerk en transformators gesteel wat hulle saam landuit gesmokkel het.
Hy is glo vermoor na ‘n dispuut hieroor. Nyalungu was destyds ‘n polisieman wat by die grens gestasioneer was.
Nyalungu is beter bekend as Big Joe, die vermeende baasbrein van ‘n stropingsindikaat.
Hy staan ook tereg op klagtes van stroping, diefstal en die besit van gesteelde goedere saam met ses ander mense.
Onder hulle is Petros Mabuza, wat saam met Nyalungu as die baasbrein van die sindikaat beskou word, asook verskeie voormalige polisiemanne.
Die sewe is aanvanklik in September 2018 gearresteer.
Die verhoor sou oplaas Maandag in die Mpumalanga hooggeregshof in Mbombela begin het.
Die tydelike sluiting van die howe weens die Covid-19-pandemie noodsaak egter dat ‘n nuwe hofdatum daarvoor bepaal word.
Nyuswa verduidelik dat dagvaardings op alle partye beteken sal word vir hulle om in die hof te verskyn.

 


×