100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Besoekers stroom na Krugerwildtuin oor langnaweek

Written by on September 28, 2020

Die Krugerwildtuin het ‘n besonder besige langnaweek ervaar.
Dagbesoekers is vooraf gewaarsku om hul plekke te bespreek of om vroeg op te daag omdat die park se besoekerskwota daagliks streng toegepas sou word.
Die woordvoerder van die wildtuin, Ike Phaahla, sê die meeste hekke se kwotas is vroeg elke oggend reeds gevul.
By Krokodilbrug, hul besigste hek, is die kwota besoekers reeds Saterdag om 05:30 gevul.
“Die prosedure is dat wanneer die daaglikse kwota besoekers bereik word, slegs mense met besprekings verder in die park toegelaat word,” verduidelik hy. “Daar is geen moontlikheid om meer mense in te laat nie.”

Kwotas verskil tussen verskillende kampe, verduidelik Paahla. By Skukuza is verblyf tans op 50% van kapasiteit beperk. By Shingwedzi-ruskamp is dit 40%. In Laer Sabie is dit nog laer, omdat van die eenhede tans opgradeer word.
Die Krugerwildtuin is wel tevrede met hul kapasiteit om Covid-19-veiligheidsregulasies toe te pas, en hulle sal daarom stelselmatig die getalle mense wat hulle toelaat vermeerder.
Hulle hoop dat alle kampe teen 1 Oktober 100% vol kan wees.
Phaahla voeg by dat die onlangse brande in Letaba- en Berg-en-dal-kamp steeds ondersoek word.
‘n Brand het die aand van 9 September in die winkel in Letaba-kamp uitgebreek en die naburige televisiekamer ook verwoes.
Minder as ‘n week later, op 14 September, het ‘n brand in Berg-en-dal se kombuis ontstaan. Dit is spoedig geblus en niemand is beseer nie.
Volgens Phaahla ondersoek hul versekeringsmaatskapy sowel as die polisie die oorsaak van die brande. Sodra hierdie verslae gekonsolideer is, sal dit aan die publiek gekommunikeer word.

“Voorlopige verslae dui daarop dat geen vuilspel betrokke was nie,” sê hy.


×