100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Argeologiese opgrawings ouer as Mapungubwe in Krugerwildtuin ontdek

Written by on September 21, 2022

‘n Argeologiese ontdekking in Letaba in die Krugerwildtuin toon tekens dat dit ouer kan wees as die Koninkryk van Mapungubwe, die oudste bekende inheemse koninkryk in Suider-Afrika wat sowat 1 000 jaar oud is.
Artefakte wat by Letaba ontdek is word beskou as ten minste 1 600 jaar oud en toon tekens van handel oor die Indiese-oseaan wat in dié tyd gedryf is.
Dr. Xander Antonites is deel van die argeologiespan by die Universiteit van Pretoria wat dit uitgrawe en bestudeer.
Hy verduidelik hoekom dit die geskiedenis herskryf. Luister weer hier.

Antonites verwag dat die opgrawings sal bewys dat die handel in diereprodukte (ivoor, velle, horings en tande) die aanvanklike impetus was vir handelaars om in die binneland van Suid-Afrika handel te dryf – eerder as goud soos later die geval was.
Hoewel die fokus van SANParke op natuurbewaring is, “beskik hulle oor onskatbare kulturele hulpbronne en daar is die behoefte om hierdie besef uit te brei,” sê hy.

Die wildtuin ondersteun hulle ook deur verblyf en veldwagters beskikbaar te stel vir hul beskerming, maar die span vind die diere sku.
“Daar is gewoonlik die eerste paar dae nuuskierige olifante, maar hulle maak hulself gou uit die voete as hulle die mense hoor.
“Die uitsondering is buffels – hulle is minder geneig om vir ons pad te gee.”


×