100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

All Black-toets in Mbombela van die baan

Written by on July 21, 2020

SA Rugby beplan nie om vanjaar enige internasionale rugbytoetse aan te bied nie.
Uitvoerende hoof, Jurie Roux, het tydens ‘n perskonferensie vanmiddag aangedui dat die Springbokke wel moontlik voor die einde van 2020 oorsee kan gaan toer.
Die All Blacks sou op 26 September ‘n toets teen die Bokke by Mbombela Stadion gespeel het.
Dit is nou, minder as 10 weke voor die wedstryd, prakties van die baan.
Volgens Roux sal internasionale wedstryde slegs gebeur indien dit tussen Oktober en November afgehandel kan word.
Dit is egter ‘n besluit wat deur Wêreldrugby geneem moet word. Hy verwag dat dit in die volgende twee weke amptelik aangekondig sal word.

Hy voeg by dat almal in sport se situasie vloeibaar is, met verskeie faktore wat beplanning beïnvloed.
“Basies probeer rugby om 2020 uit die weg te ruim en te begin voorberei vir 2021.”
Volgens hom kry kompetisies voorkeur waar daar ooreenkomste met borge en uitsaaiers is en word die kalender nou vinnig vol.
Dit maak dit moeilik om tyd vir internasionale wedstryde in te ruim.
Boonop voorsien hy nie hoe internasionale spanne vanjaar nog toegelaat sal word om na Suid-Afrika te reis nie.
SA Rugby se fokus vir 2021 is op die Britse en Ierse Leeu-toer.
Agt wedstryde is bevestig om in Julie en Augustus 2021 in Suid-Afrika plaas te vind.
Roux het bygevoeg dat hulle besluite in onseker tye neem en so goed moontlik probeer beplan, maar in die langtermyn is dit onmoontlik.
Die Vodacom Bulls, Emirates Lions, Cell C Sharks, DHL Stormers, Southern Kings, Toyota Cheetahs, Tafel Lager Griquas en Phakisa Pumas kon Maandag weer begin oefen.
Slegs hierdie agt spanne sal vanjaar plaaslik rugby kan speel, sowel as diegene met o/21-spanne. Klubrugby is gekanselleer.
Kontak word nie tydens oefeninge toegelaat nie, maar spelers mag in ‘n gimnasium oefen en tot vyf spelers mag saam op ‘n veld met ‘n bal oefen.
Pieter Burger, uitvoerende hoof van Mpumalanga Rugby, sê hulle is verlig om weer te mag oefen.
Hulle hoop om die laaste week in Augustus of die eerste week in September met die Curriebeker-reeks te begin – al is dit dan agter geslote deure.
Dié besluit lê egter by die regering.


×